youtube
Het jy gehoor?

Audrey Hepburn ‘leef’ weer in nuwe advertensie

Ongeveer vyftig jaar nadat sy in klassieke films soos My Fair Lady en Breakfast at Tiffany’s gespeel het, is Audrey weer op die skerm – dié keer op die TV-skerm.

’n Rekenaar-gegenereerde beeld van Audrey is in ’n nuwe advertensie vir Galaxy-sjokolade te sien. Die advertensie se klankbaan bevat die lied “Moon River”, wat in 1961 die Oscar gewen het vir Beste Lied. Dis spesiaal geskryf vir Breakfast at Tiffany’s en Audrey sing dit ook in dié prent.

In die advertensie lyk Audrey, wat vanjaar reeds 20 jaar oorlede is, pragtig stylvol in ’n vintage polkakol-rok. Die bus waarop sy ry word in verkeer vertraag, maar Audrey maak ’n plan en kry ’n geleentheid saam met ’n aantreklike man.

Audrey is nie die eerste ster wat ná haar dood terugkeer vir ’n advertensie nie. In Charlize Theron se J’adore-advertensie vir Dior verskyn ikoniese sterre soos Grace Kelly, Marlene Dietrich en Marilyn Monroe. (Kyk die advertensie hier.)

In 1997 is rekenaartoertjies ook ingespan sodat dit lyk asof Fred Astaire met ’n besem dans in ’n advertensie vir skoonmaaktoestelle. Hoewel sy weduwee toestemming gegee het dat sy beeld gebruik word, was sy dogter glad nie gelukkig daaroor nie. (Kyk die advertensie hier.)

Audrey se seuns, wat in beheer van haar boedel is, het die gebruik van haar beeld goedgekeur. Sean Ferrer en Luca Dotti het gesê hul ma sal trots wees oor haar nuwe rol en sê dit vang hul ma se speelse gees vas.

Kyk die advertensie hieronder. Wat dink julle daarvan?