FOTO: Edwin van der Walt

FOTO: Edwin van der Walt

Het jy gehoor?

Ballade se Edwin hou só Moedersdag, en hy gesels oor sy nuwe fliek

Edwin van der Walt is beslis ’n naam om te onthou, want dié jong akteur se loopbaan gaan nou van krag tot krag. 

Hy was nog ’n student aan die Universiteit Stellenbosch toe hy die rol as die jong Jacques Rynard in Leon van Nierop se Ballade vir ’n Enkeling losgeslaan het. En sy nuutste fliek, Hollywood in my huis, begin 26 Junie landwyd in teaters draai. Hy is juis vir dié rol benoem as beste akteur by die Silwerskermfees in 2014, en by vanjaar se KKNK is hy benoem as die beste opkomende akteur vir sy rol in Braai.

Op 23 weet hierdie jongman wat hy wil hê. Ná skool moes hy kies: ’n loopbaan as akteur, of ’n loopbaan as rugbyspeler. (Die Sharks-akademie het hom genader ná hy twee jaar vir die Hoër Jongenskool Paarl se eerste rugbyspan uitgedraf het.) Maar sy hart was altyd in toneelspeel.

Hollywood in my huis speel af in 2004. Jana, die hoofkarakter, gespeel deur Christia Visser, woon aan die “verkeerde kant van die treinspoor” en is nie die gewildste meisie in die skool nie. Wanneer Charlize Theron die Oscar wen, besluit Jana die matriekafskeid sal háár rooitapyt-oomblik wees.

Edwin speel Jana se beste vriend en buurman, en hy is in die geheim verlief op haar. Sy beplan egter om die skool se tenniskampioen saam te vra na haar groot aand …

Ons het by Edwin gan uitvind hoe hy dié jaar Moedersdag gaan vier.

Hy en sy ma, Lynette van den Berg, is baie na aan mekaar, en hoewel hy nog studeer, maak hy tyd om haar gereeld te sien. “Ek probeer hulle so ver moontlik by my lewe betrek. Gelukkig bly ons baie naby aan mekaar,” het hy in ’n onderhoud met SARIE.com gesê.

Hy en sy broer, JC van der Walt, beplan om vanjaar hul ma uit te neem vir ete by haar gunsteling-restaurant.

Ek sal beslis ’n bos blomme koop en chocolates, al word daar gesê ek moenie,” vertel hy.

Op die vraag of sy ma ontbyt in die bed kan verwag, is hy so bietjie skepties. Hy sê hy hou baie van kosmaak, maar is nog nie ’n MasterChef of Kokkedoor nie. “Ek maak ’n heerlike, gevulde hoender met songedroogde tamaties, basilie-pesto en camembert, voorgesit op rys en en groente. Maar ek gaan nie so vroeg opstaan nie,” skerts hy. “Sy sal beslis koffie in die bed kry.”

Wimpy-tjips en Coke ná skool is een van Edwin se gunsteling-herinneringe aan tye saam met haar. “Ons het dit gereeld gedoen en dan bietjie ge-bond. Al is dit ’n klein gebaar, was dit altyd spesiaal,” vertel hy.