Het jy gehoor?

Bekende aktrise speel tydskrif-redakteur in Laan

Sy’t Altus lelik laat kleitrap tydens Bruynwaves se voorlegging om die tydskrif se 60ste herdenkingsfunksie aan te bied, en dit het al Paula se je ne se quois geverg om die kontrak te beklink.

Top aktrise Isadora Verwey het dit sommer baie geniet om lewe in hierdie kleurryke karakter te blaas. Met die vernuf wat spruit uit jare se ondervinding in die teater en talle televisieproduksies, het sy in ‘n japtrap in Elsa se psige geklim om ‘n multidimensionele karakter te skep.

“’n Mens moet verstaan Elsa Winterbach en Bella Donna se reputasie is op die spel hier – ‘n reputasie wat oor baie jare met uiters harde werk in ‘n genadeloos mededingende bedryf opgebou is. En met een funksie wat swak aangebied word, kan alles aan skerwe lê,” verduidelik Isadora.

“Die vrou se senuwees is dun getrek. Voeg daarby die nukke van ‘n sterk persoonlikheid en ‘n kreatiewe temperament en jy’t Elsa Winterbach: stylvol, veeleisend en wispelturig. Die Bruynwaves-span moet omtrent bontstaan om aan haar hoë standaarde te voldoen.”

Gelukkig vind Elsa ‘n geesgenoot in Paula. Die vraag is of ‘n gedeelde passie vir Ferrucchi-handsakke en ‘n weersin in die banale genoeg is om Elsa te oortuig die Bruynwaves-span gaan reg laat geskied aan haar funksie. Want wanneer sy hoor alles – van die tafelversierings tot die kelners se kostuums word van afvalmateriaal gemaak – is sy met afgryse vervul.

Met ‘n veelbekroonde talent soos Isadora Verwey in ‘n storielyn soos dié, mag 7delaan-kykers eenvoudig nie ‘n enkele episode, en veral nie die Bella Donna-funksie op Maandag 25 Junie, misloop nie. Gaan Elsa Winterbach se droomfunksie materialiseer of in ‘n nagmerrie ontaard?