images
Het jy gehoor?

Akteurs praat oor hul rolle in Deon Meyer se nuwe fliek

Die laaste tango

De Wet (Louw Venter) is ‘n speurder wat die moord op 9 meisies ondersoek. Hy vang die moordenaar (Stian Bam), maar in sy woede val hy hom aan, wat die staat se saak in gedrang bring. De Wet word na Loxton in die Karoo gestuur om af te koel totdat die kontroversie verby is. Hier ontmoet hy vir Ella (Antoinette Louw) wat besig is om haar stryd teen kanker te verloor. De Wet help haar om haar laaste wens te vervul, om weer die tango te dans. Intussen kom die moordenaar uit sy koma en wil wraak neem op De Wet …

Louw Venter

Louw is bekend vir sy rol as Corne in die televisiereeks The Most Amazing Show, waaraan hy ook skryf. Hy het ook gespeel in In My Country teenoor Juliette Binoche, The Piano Player, Crazy Monkey Straight Outta Benoni, Bunny Chow en hy was Hertjie Greyling in Semi-soet. Hy speel ook Hennie Venter, Kayla se pa, in Liefste Kayla.

Watter aspek het jou laat besluit om deel te wees van die fliek nadat jy die draaiboek gelees het?

Ek wou al vir jare iets saam met Deon doen, maar toe ek die teks lees, was die koeël deur die kerk. Ek was spesifiek aangetrokke tot die karakter De Wet, want hy het my herinner aan ’n polisieman in my familie en ook ’n generasie van Afrikaanse mans wat ná die grensoorlog soos melaatses behandel word – mans wat verskriklike dinge deur is en die wonde van daardie ervarings in die skaduwees en in geheim moet lek.

Louw Venter

FOTO: Louw Venter as die oorwerkte speurder Herkules de Wet.

Hoe was dit om saam met Deon as regisseur te werk?

Hy het die rol vertolk soos iemand wat dit al jare doen; met deernis en insig en ’n baie omvattende kennis van die kunsvorm. Ek moet erken, ek het baie hoë verwagtinge gehad, want ek is ’n groot fan van sy skryfwerk – en kan jy dit glo, daar oorskry die man my verwagtinge.

Agter die skerms by die nuwe Afrikaanse TV-reeks Liefste Kayla

Wat sal jy nooit van jou tyd op die Die laaste tango-stel vergeet nie?

Loxton is ’n verstommende stil plek vir ’n stadsjapie soos ek. Om in die maanlig, reg in die middel van die hoofstraat, die tango saam met Antoinette te kon oefen sonder die vaagste vrees dat ’n trekker of iets ons gaan platry, was wonderlik. Bloot die sin van wees in ’n plek waar jy kan asemhaal en jou arms uitstrek, is iets wat jy nie maklik sal vergeet nie. O, ek het ook per ongeluk vir Stian regtig oor die neus geraps in ’n vegtoneel, onvergeetlik ja, maar ek voel nou nog sleg. Jammer, Stian!

Antoinette Louw

Antoinette is bekend vir haar rol as Inge van Schalkwyk in 7de Laan, en was ook te sien in Skid Marks, A Million Colours en Winnie. Sy is ook ‘n bekende gesig op die verhoog. 

Antoinette Louw

FOTO: Antoinette as Ella in Die laaste tango.

Vertel ons van jou karakter en watter veranderinge sy in die fliek ondergaan.

Ella Winter is ‘n wêreldbekende fotograaf wat aan kanker ly. Loxton is haar grootwordplek en dis waarheen sy terugkeer om gesond te word. En in haar stryd met haar siekte en eensaamheid, ontmoet sy vir Herkules de Wet. Sy sien dadelik ook sy eensaamheid en emosionele pyn en besluit om hom te help deur hom die tango te leer – om hom vry te maak. Maar in die proses bevry sy ook haarself.

Antoinette Louw, wat die hoofrol in Dis ek, Anna vertolk, gesels met die skrywer van dié aangrypende verhaal, Anchien Troskie.

Wat sal jy nooit van jou tyd op die Die laaste tango-stel vergeet nie?

Ek en Louw Venter wat in Loxton se stofstrate die tango oefen! Wie sou dit nou ooit kon dink? Die tango in die Karoo . .

Hoe was dit om die tango te leer dans, was dit baie moeilik? 

Dit was ‘n heerlike uitdaging. Ná baie seer voete en vele pleisters later, dink ek ons het nie te sleg gevaar nie. Of altans, ek het beslis baie minder op Louw se tone getrap.

Deon Meyer praat oor sy liefde vir die Karoo

Marius Weyers

Marius Weyers is een van Suid-Afrika se bekendste en geliefdste akteurs. Hy het internasionale aandag getrek met sy rol in The Gods Must Be Crazy in die tagtigerjare. Buiten vir ‘n aantal films en verskeie televisierolle, het hy al in meer as 137 toneelstukke gespeel.

Marius Weyers

FOTO: Marius Weyers in Die laaste tango.

Hoe was dit om saam met Deon te werk?

Deon het my baie aangenaam verras, hy moes kwaai opgeswot het. Sy kennis van tegniese aspekte van film en sy hantering van DRIE kameras was verstommend.

Marius Weyers wys sy gunsteling-foto’s van sy loopbaan

Loxton is baie na aan Deon se hart – was jy al van tevore op dié dorpie? 

Dit was my eerste keer op Loxton, ‘n besondere plekkie. Maar ai, ek was net te kort daar.

In Die laaste tango is daar spanning, asook liefde en passie – hoe hoop jy gaan gehore die fliek ervaar?

Ek glo die fliek gaan mense aantrek, want daar is goed getekende karakters, en ‘n lekker storie wat propvol intrige is.

HIERONDER is die lokprent vir Die laaste tango. Dit begin vandag (5 Julie) draai.