1898060_10152620048832589_606282805_n
Het jy gehoor?

Bekende tydskrifredakteur ná kort siekbed oorlede

Een van Media24 se mees gerespekteerde en gewaardeerde kollegas, Anneke Blaise, redakteur van Tuis/Home, is Maandagoggend, 17 Februarie oorlede by haar huis in Durbanville ná sy in Desember met kanker gediagnoseer is.

“Ons is verslae om een van ons mees begaafde redakteurs te verloor. Anneke was nie net geliefd onder haar redaksie nie, maar ook onder haar lojale lesers. Onder Anneke se leiding het Tuis verskeie tydskriftoekenings gewen. Anneke se passie vir dekor en tuin, haar kreatiwiteit en ‘n instinktiewe insig in haar lesersmark was die rede hoekom dié tydskrif 10 jaar reeds op die voorpunt van die dekor-en-tuintydskrifmark kon bly,” sê Liezl de Swardt, hoofbestuurder Media24-vrouetydskrifte.

Marina Smith, Tuis/Home se uitgewer sê Anneke was een van daardie rare mense wat haarself in elke uitgawe gestort het. “Haar DNS is met die tydskrif verweef. Met haar unieke styl en ongelooflike oog vir ontwerp en dekor, kon sy daarin slaag om Tuis deel van elke huishouding te maak. Sy’t haar lesers geïnspireer om elke huis ‘n Tuis-huis te maak.”

Anneke Blaise (née Richter) is op 5 September 1961 gebore. Nadat sy ’n graad in drama en ’n hoër onderwysdiploma aan die Universiteit van die Vrystaat behaal het, het sy as verslaggewer by Volksblad in Bloemfontein begin werk. Ná ’n draai in die Seychelle as skakelbeampte vir Sun International het sy by Beeld se vroueblad aangesluit, waar sy later tot vroueredakteur gevorder het. Ná Beeld was sy by Die Burger en toe moderedakteur by SARIE.

Die eerste Tuis het in Junie 2004 verskyn en die eerste Home in Februarie 2005. Anneke is in September 2006 as redakteur aangestel. Sy was ook een van die medeskrywers van die boek Maak jou huis nuut/Complete Home Makeover.

Anneke word oorleef deur haar ma, Anna-Marie, broers Chris en Albert en dogter Guénola.

Begrafnisreëlings sal bekend gemaak word.