FOTO: Topbilling.com

FOTO: Topbilling.com

Het jy gehoor?

Bekendes bring hulde aan ontslape Top Billing-aanbieder

Talle plaaslike bekendes het aan Simba Mhere, die ontslape aanbieder van die glansprogram Top Billing op SABC3, hulde gebring.

’n Motorongeluk het vroeg Saterdagoggend die 26-jarige se lewe in Johannesburg geëis, berig EWN. Hy was op pad na die O.R. Tambo Internasionale Lughawe om ‘n vlug te haal sodat hy later die dag die J&B Met in Kaapstad kon bywoon

’n Vriendin van Simba is ook in die motorongeluk dood, terwyl sy pa die ongeluk oorleef het.

Mail & Guardian berig dat die bestuurder van die motor wat teen Simba gebots het, van roekelose bestuur en strafbare manslag aangekla is.

Volgens die Top Billing webtuiste sal Simba Saterdag, 7 Februarie, by die Wespark-begraafplaas in Johannesburg ter ruste gelê word.

Simba het in 2010 roem verwerf toe hy die Top Billing-aanbiedersoektog-kompetisie gewen het. Sedertien het hy ons harte gesteel.

Die hutsmerk (hashtag) #RIPSimba trend die afgelope paar dae op sosiale media. Heelparty plaaslike sportsterre, musikante en mede-aanbieders het hulde gebring aan Simba, een van Suid-Afrika se gunsteling- TV-aanbieders.