FOTO Unsplash / Kyle Broad

FOTO Unsplash / Kyle Broad

Het jy gehoor?

Bekendes praat oor stryd met anoreksie

Helen Zille het onthul dat sy ’n anoreksie-lyer was.

Die premier van die Wes-Kaap se outobiografie, Not Without a Fight, word dié week bekend gestel. Haar stryd het in 1968 begin, toe sy eerstejaarstudent aan die Universiteit van Kaapstad was.

“Ek het geïsoleerd en onseker gevoel en die skuld hiervoor gepak op my gewig wat ek geleidelik deur my hoërskooldae en toe in my dae as koshuiskind met rasse skrede aangesit het,” skryf Zille, berig Netwerk24.

“Ek het myself belowe dat ek maer sou word, weg van my ouerhuis waar my ouers erg daaroor was dat jy elke krieseltjie kos op jou bord moes verslind.”

Sy het in 1970 vir Paasfees na haar ouerhuis gegaan en net-net 42 kg geweeg.

Vir die volledige storie lees Netwerk24.

Dié eetversteuring neem dikwels jou hele lewe oor. Jy smag na iets om te eet, maar die vrees om gewig op te tel vreet jou van binne af op. En ’n onderliggende seer en emosionele pyn is dikwels die oorsaak.

Die Afrikaanse aktrise Angelique Gerber het as enigste kind saam met haar ma, Lynette, op Springs aan die Oos-Rand grootgeword. Sy het op 15 teen anoreksie baklei.

In 2010 het sy haar storie met SARIE gedeel.

FOTO: Clinton Lubbe

FOTO Clinton Lubbe

Haar ouers is geskei toe sy net drie jaar oud was en daarna het sy en haar Italiaanse pa eers aan hul verhouding begin bou toe sy 25 was.

Dit was ook haar ma wat haar terug na die werklikheid geskok het toe sy in graad nege net 38 kg geweeg het.

Die gemis aan haar pa het ’n “gat” in haar gelos wat sy met aanvaarding wou opvul.

“Ek het gevoel my pa aanvaar my nie. Dalk, as ek maerder of mooier is, sal dit anders wees, het ek gedink. Ek weet nie hoekom nie, maar dis die verband wat ek getrek het. Ek was in ’n moeilike stadium in my lewe. Dit was die oorgangstyd na my tienerjare. Ek het ’n lae selfbeeld gehad, al was ek ’n toppresteerder wat in sport en akademie uitgeblink het. Toe hou ek op eet, behalwe ’n appel ’n dag. As ek ’n toebroodjie geëet het, het ek dit gaan afdraf.”

FOTO Instagram @angeliquegerber83

FOTO Instagram / @angeliquegerber83

Een aand het Angelique se ma by haar kom sit terwyl sy gebad het en vir haar gesê: “Weet jy, my kind, ek het eerder ’n vet kind as ’n dooie kind.

“Haar woorde het my geruk. Ek het besef hoe seer ek haar maak. Ek het gedink óf ek gaan so aan en gaan dood óf ek eet normaal en is gesond. Ek het geweet as ek op hierdie pad bly, gaan ek weggevat word van my ma. Ek wou dit nie aan haar doen nie.”

Sy het geleidelik gesonder begin leef.

“Ek het wilskrag. Toe ek besluit ek gaan begin eet, het ek. Baie meisies sukkel om dit te doen. Dit was gelukkig, dankie Here, nie my pad nie.”

Vandag het sy ’n gesonde verhouding met kos.

“Ek dink aan watter kos vir my die meeste energie gaan gee en nie aan wat my dalk gaan vet maak nie. Ek wil nie eens hê my brein moet vir ’n sekonde ’n gedagte koester dat ek vet is nie.”

SARIE se eerste Voorbladgesigwenner, Alrie Velleman, het in 2011 onthul dat sy in 2007, in gr. 10, ’n jaar lank aan die dieetsiekte anoreksie gely het – juis omdat sy in haarself getwyfel het.

NOV-20111-570x746

Alrie vertel dat dit als gebeur het toe sy nié daardie jaar as Springbok vir die saalperd-ruiterkunsspan gekies is om oorsee te gaan deelneem nie.

“Ek was só teleurgesteld. Ek het altyd hope selfvertroue gehad, maar dit was die eerste keer dat dinge teen my gedraai het.”

Sy wou haarself bewys deur haar kos-inname te beheer.

“Ek het 20 kg ligter as my huidige gesonde 65 kg geweeg. Ek was vir ’n ruk lank in ’n kliniek. Baie gebede, professionele hulp, inspirerende boeke van Francine Rivers en my ouers se liefde het my gehelp om weer my selfbeeld op te bou. Ek moes ook van my ego ontslae raak en besef álles gaan nie oor uiterlike dinge en erkenning nie. Selfvertroue gaan oor selfaanvaarding.”

Want sy wóú weer voel soos vroeër, toe haar pa, Viaan, ’n algemene praktisyn, haar altyd sy “Alrie-pop” genoem het. “Hy het my laat voel asof ek die wonderlikste mens op aarde is. Hy het my wél geleer as jy hoogmoedig is, breek jy ander af, maar as jy selfvertroue het, laat jy ander goed voel omdat jý goed voel. Hy het my ’n opstel hieroor laat skryf toe ek ’n klein dogtertjie was. My ma, Marjorie, het ons geleer om regop te loop en ons ken te lig. En om vir ander om te gee. Sy het gesê dít verhoog jou eiewaarde.”

Vandag is sy baie dankbaar oor haar gesonde liggaam.

“Dis beslis nie vir my lekker as my broek effens te knap sit nie, maar ek hóú nie van my foto’s van toe ek so maer was nie. Sport gee my baie selfvertroue. Ek draf sowat 4 tot 5 km per dag en ek hou van perdry.”

Lees nou

Candice Swanepoel kry haar seuntjie

Leef nóú jou drome uit – Bertha le Roux

5 wenke vir ’n vensterbank-tuintjie