FOTO: Gallo Images / Getty Images

Het jy gehoor?

Kersfees vir Kate en William + Herman se Kersspyskaart

Die Britse koninklikes het ’n meer formele affêre wat op hulle wag. Soos tradisie, gaan dié familie na die Sandringham-huis in die Ooste van Engeland waar elke minuut vir hulle beplan is. Verlede jaar was dit Kate se eerste besoek hier en daar is berig dat sy op Kersdag vyf verskillende uitrustings moes aantrek.

Daar was aanvanklik berig dat Kate nie dié geleentheid kan bywoon weens haar gesondheid nie. ’n Bron na aan die prinses het gesê sy is vasberade om dié geleentheid by te woon. Prins Harry gaan egter sy familie net via Skype sien, omdat hy soos in 2007, Kersdag in Afghanistan sal vier. Hierdie jaar staan dié 28-jarige prins wag, terwyl die troepe hul Kersete geniet. 

Vicky Davis

Vicky Davis (7de Laan en Pasella) sien uit na ’n rustige tydjie by die huis. “Omdat ek so baie rond toer, is dit vir my lekker om net by die huis te bly en my vriende en familie te sien. Ek wil ook inhaal op my slaap!” Vir haar Kaapse Kersete kom haar en haar skoonsuster se familie bymekaar. “Ons almal gaan iets saamvat om te eet, maar ek sien uit na my ma se kos! Sy hou daarvan om Kersfeeskos te maak en dit is héérlik!”

Ná Kersfees gaan Vicky saam met haar kêrel teen die Weskus uitspan.  

Robbie Wessels    

Robbie Wessels (Leeuloop-sanger en Poena is koning-akteur) sê Kersfees is ’n spesiale tyd vir families en vriende om saam te wees. Hierdie jaar gaan die hele Wessels-familie na die Bronkhorstspruitdam waar sy pa ’n houthuisie gebou het. 

“Ons gaan fireworks skiet en tekere gaan. Vroeër jare het ons tradisionele Krismiskos geëet, soos tong, maar vanjaar gaan ons braaivleis, pap en slaai eet.”

Vir die Hudson-Hawn-familie is dit ook ’n tyd vir saamkuier. Kate Hudson gaan oudergewoonte Colorado toe waar sy groot geword het. Kate en haar ma, Goldie Hawn, versier die huis, die kinders ysskaats en almal drink warm sjokolade om die koue hok te slaan.

Kristen Stewart en Rob Pattinson

Die tonge is behoorlik los oor Kirsten Stewart (Twilight) se Kersfeesplanne! Sy gaan na bewering dié feestelike dag saam met haar kêrel Robert Pattinson deurbring – dít nadat sy in Julie vanjaar op kamera gevang is waar sy met ’n getroude man kafoefel!

’n Meer standvastige verhouding is dié van Rod Stewart en Penny Lancaster wat reeds 5 jaar getroud is. Penny weet wat haar 67-jarige manlief wil hê – eenvoudige luukshede soos goeie borsels om sy modeltreine skoon te hou en kasjmiersokkies vir sy koue voete. Maar Rod het ’n behoorlike lys inkopies om te doen – vir sy twee jong seuns by Penny, Alastair (7) en Aiden (1), asook sy volwasse kinders Kimberly en haar dogtertjie Delilah (1), Sean, Ruby en Renee.

Die Kardashian-Jenner-familie vier Kersfees in styl. Hulle het ’n Kersfoto laat neem – almal in wit uitgevat. En soos verwag het die susters hul kurwes in stywe wit rokke gewys. Selfs klein Penelope, Kourtney se nuweling, is in ’n wit prinsesrokkie uitgevat. 

Die Kardashian-Jenner-familie

[box:full:red:both]

Herman Lensing

Ons eie kosredakteur, Herman Lensing, is by die huis vir Kersfees en sy spyskaart gaan ‘n winter Europese een wees, maar met Suid-Afrikaanse geure

Voorgereg:
Kreefsterte op die kole
(Ek gaan probeer om dit op ‘n plankie te braai…)

Hoofgereg:
Gerookte ham met heuning, mosterd en nartjie

‘n 8-uur-lamsboud met hande vol roosmaryn en mint-jellie
Blomkool met parmesaan-kaassous
Groenbone gebraai met spek en tamatie
Brosgebraaide aartappels in eendvet

Nagereg:

Trifle (my manier) of probeer dié trifle
Pavlova-krans

[/box]