FOTO: Leana Clunies-Ross

FOTO: Leana Clunies-Ross

Het jy gehoor?

Celebs se vreemde diëte

In Hollywood is voorkoms en gewig ’n ewige stryd. Daar’s geweldige druk op bekendes om perfek te lyk. Al tel ’n ster net ’n paar kilo’s op, haal dit die skinderblaaie. En dikwels dryf wanhoop celebs tot vreemde diëte.

Daar is nou omstredenheid oor die TV-werklikheidsprogram The Biggest Loser, want sy deelnemers word brandmaer tydens die program, maar tel daarna elke gram gewig op sodra hul weer by die huis is.

Kevin Hall, ’n wetenskaplike by ’n federale navorsingsinsituut in Amerika, het vir ses jaar lank deelnemers aan The Biggest Loser gevolg om agter te kom hoekom hulle nie hul gewig kon afhou nie. Die meeste deelnemers van seisoen 8 het weer hul gewig opgetel. Sommiges weeg selfs nóg swaarder as voor hul deelname aan die program.

FOTO: Instagram /@biggestlosernbc

FOTO: Instagram /@biggestlosernbc

Hy het vasgestel dat dit te make het met die deelnemers se rustende metabolisme, berig The New York Times. Al was hulle voorheen oorgewig, was die deelnemers se metabolisme tóé normaal vir hul lengte. Nadat hulle suksesvol gewig verloor het, was hul metabolisme aansienlik stadiger as voorheen.

In 7de Laan se goue jare was die boekwurm Emma, gespeel deur Bertha le Roux, een van die gewildste karakters. Bertha het op haar dag 15 kilogram verloor op die Dr. Cohen-dieet. Op die streng vetvrye dieet kon sy haarself tussen maaltye bederf met ʼn versnapering van Provitas met Canderel-versoeter daaroor gestrooi. Vandag is sy ʼn aanhanger van Tim Noakes en Die Kosrevolusie se Banting-dieet.

FOTO: Leana Clunies-Ross

FOTO: Leana Clunies-Ross

“Banting help met jou gesondheid. As jy jouself van alle koolhidrate en suiker ontneem, kan jy die lewe vir jouself baie moeilik maak. Cohen is nie volhoubaar nie,” het sy aan Fanie Cronjé gesê.

Bertha bied Donderdagoggende ’n program op Radio Kansel aan en haar DVD vir kinders, Godstories, word in Julie bekend gestel. Sy speel later vanjaar in die fliek O Vet! die rol van ʼn joernalis wat saam met haar vriendin na ʼn fat camp toe gaan.

Bekendes se vreemde diëte

Marilyn Monroe

Marilyn het haar dag begin met twee rou eiers, opgeklits in ’n glas warm melk. Geen middagete nie en vir aandete opgekookte lewer, steak of lam met vyf wortels. Vir nagereg sou dit hot fudge sundae wees.

Bron: The Cut

Elizabeth Taylor

Sy was bekend vir haar eie konkoksies soos grondboontjiebotter-en-steak-toebroodjie of vrugteslaai met maaskaas of suurroom. Sy het ook pizza verorber en was lief vir roomys.

Bron: The Cut

Beyoncé

Dié Grammy-wenner het aandag getrek met Master Cleanse, ’n vloeistofdieet van suurlemoen en rooipeper (cayenne peper) in warm water. Sy kon darem een dag van die week afneem vir pizza en wyn.

Bron: The Cut

Lady Gaga

Sy volg blykbaar die Tracy Anderson-babakos-dieet waar ontbyt en middagete bestaan uit Gerber-babakos. Vir aandete word daar ʼn gebalanseerde, gesonde maaltyd geëet.

Bron: Huffington Post

Madonna

Madonna het die baie streng Macrobiotic-dieetplan gevolg. Hier word alle koring, vleis, eiers en suiwel uitgeskakel. Op die dieet was sy aangemoedig om “seegroente” soos alge, kelp en spirulina te eet.

Bron: The Cut

Gwyneth Paltrow

Gwyneth het ʼn leefstyl waar sy alles eet wat “goed” is en alle brood, rooivleis, suiwel, eiervrug en selfs tamaties uit haar dieet sny. Vir ontbyt drink sy ʼn groensap en vir die res van die dag volg sy ʼn vegan-tipe eetplan.

Bron: Goop

Jake Gyllenhaal

Hy was op die All-kale and chewing gum-dieet, waar jy net kale en kougom mag eet. Die dieet moet streng deur ʼn gesondheidskenner gemonitor word en kan baie skadelik wees. Jake het dit bloot vir ’n rol gedoen.

Bron: Business Insider

Harry Styles

Harry van One Direction drink ʼn koppie swart koffie met twee eetlepels botter en ʼn eetlepel MCT-olie (uit kokosneut), die res van die dag word maaltye sterk bepaal deur  wanneer dit geëet word en daar moet by ʼn tyd gehou word. Geen alkohol en verwerkte voedsel mag gebruik word nie. Dit staan bekend as die “Bulletproof diet”.

Bron: Daily Mail

- LET WEL: SARIE beveel geen diëte aan nie.