FOTO: Gallo Images / Getty Images

FOTO: Gallo Images / Getty Images

Het jy gehoor?

Bekendes van Benoni

Daars iets in die water in Benoni!

’n Noemenswaardige aantal bekendes is in dié dorp aan die Oosrand gebore, of het ’n gedeelte van hul lewe hier gewoon. En amper elkeen is bekend vir iets anders – van ’n atleet, ’n prinses, ’n Oscar-bekroonde aktrise en selfs ’n Springbok-rugbyheld!

Benoni se tien beste uitvoerprodukte oor die jare

1. Charlize Theron is seker die bekendste onder hulle almal. Sy het haar plek in Hollywood verewig toe sy in 2004 die Oscar vir haar rol in Monster gewen het. Sy is deesdae een van die wêreld se bekendste aktrises, en almal ken die tragiese storie dat haar ma haar pa in selfverdediging by hul huis in Benoni geskiet het. (Bron: Wikipedia)

2. Alhoewel prinses Charlene van Monaco, nie in Benoni gebore is nie, het sy daar skoolgegaan. Sedert 2011 is dié voormalige Olimpiese swemmer ’n prinses ná sy met prins Albert getrou het. Destyds was daar gerugte dat sy voor die troue uit die pienk paleis probeer ontsnap het, maar sy het dít ontken. Dié paartjie het in Desember 2014 ’n tweeling, prins Jacques en prinses Gabriella verwelkom. (Bron: Wikipedia)

3. Die sexy model Genevieve Morton wat onlangs in ’n smeulende fotosessie vir die eksklusiewe sportmotor Maserati verskyn het, is ook oorspronklik ’n inwoner van Benoni. (Bron: Wikipedia)

Genevieve Morton

 

4. Die Springbok-rugbyspeler Bryan Habana se wortels lê ook in Benoni. (Bron: Wikipedia)

5. Die bekende vryheidsvegter Oliver Tambo is ook afkomstig van Benoni. Die grootste internasionale lughawe in Suid-Afrika is na hom vernoem. Hy is in 1993 oorlede. (Bron: Wikipedia)

6. DJ Euphonik, wat bekend is daarvoor om gehore in nagklubs op hul voete te kry en ook ’n gewilde radio-omroeper is, het ook in Benoni groot geword. (Bron: Youth Village)

7. Die Comrades Marathon-wenner Frith van der Merwe is hier gebore. Sy het talle marathonrekords in die 1980’s en 1990’s verbeter en het in 1989 ’n rekordtyd vir die Twee Oseane-marathon opgestel. Sy het intussen ook in Grahamstad gewoon waarna sy terug is na Benoni waar tans skoolhou. (Bron Wikipedia)

9. Vic Toweel was in 1950 as 21-jarige die wêreldkampioen in die bantamgewig-kategorie – die eerste Suid-Afrikaner wat dié titel gedra het. Hy is in Benoni gebore en is in 2008 in Sydney, Australië oorlede. (Bron: Wikipedia)

9. Die Australiese aktrise Jessica Marais kom ook van Benoni af. Sy het as 9-jarige saam met haar gesin na Perth geëmigreer. Sy is in dié land se gewilde TV-programme Love Child en Carlotta te sien. (Bron: Wikipedia)

10. Die presidentsvrou van Zimbabwe, Grace Mugabe, is in Suid-Afrika gebore en het in Benoni gewoon totdat sy 5 jaar oud was. (Bron: iOL en Bulowayo24)

Lees ook