FOTO Instagram / @vitaliisediuk

FOTO Instagram / @vitaliisediuk

Het jy gehoor?

Bekendste sitvlak kry klapsoen!

Om in die kollig te wees is nie altyd maklik nie. Veral nie as ’n bekruiper jou die slag teiken nie. En daar is een man, Vitalii Sediuk, wat gereeld een of ander celeb omkrap – dikwels meer as een keer. Sediuk, wat as ’n joernalis van Oekraïne beskryf word, beskou homself as ’n poetsbakker.

Sy nuutste slagoffer is Kim Kardashian, wat ook al in 2014 onder hom deurgeloop het. Dié koningin van selfies was gister in Parys, Frankryk, op pad na haar motor toe Vitalii letterlik haar agterstewe gesoen het – ja, dáárdie sitvlak! Vinniger as wat jy “genugtig!” kan sê, is hy deur haar lyfwag tot op die grond gemoker.

Kim het natuurlik daaroor getwiet.

En Vitalii het sy saak op Instagram gestel.

Die model Gigi Hadid is ook verlede week deur hierdie einste poetsbakker geteiken. Hy het haar ná ’n modevertoning in Milaan op die rooi tapyt opgetel. Sy het hom met haar elmboog in die gesig geslaan.

’n Paar celebs het al onder hom deurgeloop, berig Pajiba.com. In 2012 het hy probeer om Will Smith te soen en in 2014 het hy by die première van Maleficent in Los Angeles probeer om sy gesig in Brad Pitt se mik te druk. Brad was nie beïndruk nie en het Vitalii agter die kop getik.

In 2013 is hy op die verhoog by die Grammys in hegtenis geneem toe hy Adele se toespraak ontwrig het. In 2014 het arme America Ferrera in Cannes deurgeloop toe Vitalii haar aan haar enkels gegryp het en sy kop onder haar rok ingesteek het. In dieselfde jaar het hy boonop vir Kim Kardashian by die Paryse Modeweek getakel. Ná die voorval het hy aan Daily Mail gesê hy hoop Kim is nie kwaad vir hom nie, hy het geen slegte bedoelings gehad nie.

Hy het ook al aan die bene van akteurs Bradley Cooper en Leonardo DiCaprio gehang.

Wie is dié skurk wat dit keer op keer regkry om sy manewales op die rooi tapyt uit te haal?

Volgens Wikipedia is Vitalii Sediuk in die Oekraïne gebore. Hy het voorheen vir die Oekraïnse TV-kanaal 1+1 gewerk, en hy gebruik dit steeds as voorwendsel om toegang tot rooitapyt-geleenthede te kry.

Al is hy vir enkele van die insidente in hegtenis geneem, het dit nooit op tronkstraf of selfs ’n boete uitgeloop nie. Hy is soms nie eens aangekla nie. Maar hy het sy rieme styf geloop met Brad Pitt. Hy is op 28 Mei 2014 in hegtenis geneem ná die rooitapyt-voorval by die première van Maleficent. Hy is vir twee dae aangehou toe hy nie sy borgtog van $20 000 kon betaal nie en is op 30 Mei skuldig bevind aan aanranding.

Vitalii se vorige eskapades het hom duur te staan gekom, want hy is dié keer ook aangekla van onwettige aktiwiteite by ’n sport- of teater geleentheid of uitstalling. Dit was na aanleiding van sy 2013 Oscars-stunt toe hy nie aangekla is nie op die voorwaarde dat hy hom vir drie jaar goed sal gedra.

Hy het ’n vonnis van 20 dae gemeenskapsdiens gekry, ’n kostebevel van $440, en hy moes sielkundige berading kry vir ’n jaar. Hy woon sedert 2012 in Los Angeles en sy ambisie is om ’n skrywer/regisseur/vervaardiger te wees.

Maar Sediuk is nie die enigste bekruiper wat onlangs in die nuus was nie. Die man wat aktrise Jodie Foster in 1981 vir sewe maande bekruip het, John Hinckley Jr, is in September vanjaar ontslaan uit die psigiatriese inrigting waar hy aangehou is.

Toe hy in 1981 ’n sluipmoordaanval op Ronald Reagan en drie ander probeer uitvoer het, het hy aan Jodie geskryf sy behoort te weet dat hy haar baie lief het. Hy het oor die sewe maande wat hy haar bekruip het vir haar dosyne gedigte, briewe en liefdesboodskappe gestuur met die hoop dat sy in hom sou begin belangstel.

Hy is destyds kranksinnig verklaar en die hof het hom na die inrigting verwys. Volgens die regter wat nou die 61-jarige Hinckley ontslaan het, hou hy geen gevaar vir homself of die publiek in nie en hy mag voltyds by sy ma se huis in Williamsburg woon. Jodie Foster wou geen kommentaar lewer op sy vrylating nie.

Bronne: Pajiba.com, Huffingtonpost, Fox News, The Sun

Lees nou

Eers opknapper, dán sjampoe – ja, jy lees reg!

5 redes waarom koffie goed is vir jou

Kyk wie is terug ná 10 jaar!