Het jy gehoor?

Bekroonde pianis, Nataniël se begeleier, op die verhoog

Charl du Plessis is tans die enigste kunstenaar wat ernstige musiek-optredes in verskeie genres doen: klassiek, pop, rock en jazz. Gehore van regoor Afrika, Europa en die Ooste het dié pianis al in aksie gesien, en dis duidelik dat sy virtuose spel enigiets van Bach tot Billie Joel insluit. Hierdie Doktor van musiek tree meer as 100 keer per jaar op en het reeds 2 albums en 1 DVD bekendgestel sedert 1999, toe hy begin optree het. Charl is ook as die Steinway Artist aangewys, die vyfde maar ook die jongste Suid-Afrikaner in die geskiedenis.

Om as die Steinway Artist aangewys te word is ‘n groot eer, en jou naam word dan ook in dieselfde asem as pianiste soos Abdullah Ibrahim, Sergei Rachmaninoff, George Gershwin, Vladimir Horowitz, Martha Argerich, en Alfred Brendel s’n genoem! Meer as 1 300 pianiste wêreldwyd het al hierdie eer gekry.

Die Charl du Plessis Trio debuteer vanjaar tydens die Oude Libertas Amphiteater se Somerseisoen in Stellenbosch met die musiekproduksie Café Chopin.

Hierdie trio bestaan uit Steinway Kunstenaar® Charl du Plessis (klavier), Werner Spies (kontrabas) en Hugo Radyn (tromme). In 2007 het die eerste album van hierdie talentvolle groep musici verskyn en daarna volg toere deur Suid Afrika en na uitverkoopte konserte in China, Nederland en Switserland. In 2009 is die Charl du Plessis Trio aangewys as die beste nuwe produksie tydens die Volksblad Kunstefees in Bloemfontein. Charl du Plessis is ook die afgelope 11 jaar bekend as eksklusiewe pianis vir Nataniël.

Die program in Stellenbosch bevat ‘n eklektiese kombinasie van klassieke musiek verwerk vir jazz trio. Dink aan komponiste soos Mozart, Bach en Chopin – klassieke treffers, maar in nuwe koel en sexy verwerkings. Geen wonder die aanhangers in China en Switserland het die trio weer uitgenooi om in 2011 daar te gaan speel nie.

Hoe en waar?

Sondag 28 Nov. om 18:30

Oude Libertas Amfiteater

Stellenbosch

Bespreek jou sitplek by www.computicket.com

Vir meer inligting besoek www.charlduplessis.com