Het jy gehoor?

Beste kaaskoek nog? 8 miljoen mense sê ja! (en dis net 3 bestanddele)

Die afgelope week is die internet oorrompel deur ’n Japanse YouTube-video van ’n kaaskoek met net 3 bestanddele.

Ja, jy het reg gelees: net 3 bestanddele. Die video het reeds meer as 8,2 miljoen kykers gehad. Maar uit ondervinding met baie sulke kitsresepte of -oplossings weet ons dit werk nie altyd nie. Daarom kon ek myself nie keer nie en moes ek net eenvoudig dié kombuis-wonderwerk toets. (Ek het ’n sagte plekkie in my hart vir kaaskoek!)

Die video

Die video het byskrifte in Japannees en Engels. Die vrou wys stap vir stap hoe sy die koek aanmekaarsit. Kyk dit hier!

 

Die toets

Ek gaan die koek stap vir stap bak – jy kan kies tussen wit- of melksjokolade. Ek het besluit om melksjokolade van goeie gehalte te gebruik. Hier volg die resep én my resultate:

DIe bestanddele vir ons kaaskoek.

Die bestanddele vir ons kaaskoek.

Sjokolade-kaaskoek met net 3 bestanddele

genoeg vir 1 groot koek

• 225 g melksjokolade
• 230 g roomkaas, teen kamertempratuur
• 6 eiers, geskei

Die pan is uitgevoer met bakpapier.

Die pan is uitgevoer met bakpapier.

 

Stap 1

Verhit oond tot 180 ºC. Voer ’n 20 cm-losboomkoekpan met bakpapier uit, asook ’n strook reg rondom in die pan. Spuit dit goed met kleefwerende kossproei.

Sjokolade en roomkaas is die basis van die koek.

Sjokolade en roomkaas is die basis van die koek.

 

Stap 2

Smelt sjokolade in mikrogolfoond (roer elke 10 sekondes) of oor ’n pot met kookwater. Voeg die warm sjokolade by die roomkaas.

Maak seker jy klits dit tot gladde mengsel.

Maak seker jy klits dit tot gladde mengsel.

 

Stap 3

Klits die mengsel met ’n draadklitser tot gladde voorkoms.

IMG_3317

Die eiergele is ingemeng, ons mengsel is nou reg vir die eierwitte.

 

Stap 4

Voeg eiergele by en klits mengsel weer tot glad – maak seker daar is geen klonte in die mengsel nie.

IMG_3318

Sowat 1/3 van die sagte eierwitte roer ons in.

 

Stap 5

Klits eierwitte met elektriese menger tot sagte punte vorm. Skep 1 groot lepel vol van die eierwitskuim by sjokolademengsel en roer dit in – dit maak die mengsel los voor ons die res van die eierwitte invou.

IMG_3320

Die res van ons eierwitskuim, vou geduldig in!

 

Stap 6

Vou oorblywende eierwitte met groot metaallepel in sjokolademengsel in – werk in ’n vorm 8 sodat jy so min moontlik lug verloor. (Sover lyk die resep vir my of hy gaan werk, ek proe sukses!)

IMG_3322

Die Franse noem die manier van bak au bain-marie: in ‘n bad met water.

Stap 7

Plaas uitgevoerde pan in groot oondroosterbak en gooi vulsel in pan. Vul die oondroosterbak met kookwater – sowat halfpad hoog teen die koekpan se rand. Bak vir 40 minute of tot hy gestol lyk – ek het ná 35 minute gekyk en dit nog 5 minute gelos. Skakel jou oond nou af en los dit in die toe oond vir nog 15 minute.

Klaar gebak en dit lyk soos kaaskoek!

Klaar gebak en dit lyk soos kaaskoek!

 

Stap 8

Haal die kaaskoek uit die waterbad en laat dit heeltemal afkoel op ’n draadrakkie – dit wil vir my lyk of ons regtig sukses behaal het. Buiten die groot bars op die oppervlak wat my pla, reken ek ons het ’n wenner hier beet …

Laat afkoel vir 4 ure (of oornag!)

Laat afkoel vir 4 uur in yskas (of oornag!)

 

Stap 9

Plaas afgekoelde kaaskoek in yskas vir sowat 4 uur – die wag is die grootste werk!

Stap 10

Die oomblik van waarheid: ek haal die pan se ring af en skil die papier versigtig weg. PERFEK! ’n Veerligte sjokolade-kaaskoek. Plaas op ’n opdienbord en sif bietjie kakao oor.

image1

 

Laaste nota

Soos ek gereeld sê, daar is niks fout met kortpad vat in die kombuis nie, mits die kortpad net so goed smaak soos die ware Jakob. Tradisionele kaaskoek met meer bestanddele sal altyd ’n ereplek op my rak hê, maar ek reken hierdie 3-bestanddeel-weergawe is ook ’n wenner.

*Maar, the proof of the pudding is in the eating:

Die SARIE-redaksie in Kaapstad het die kaaskoek geproe en nie almal dink dis ewe lekker nie. Dit smaak uitstekend as jy in ag neem dis net 3 bestanddele en dit is so vinnig en maklik om te maak, maar die ware Jakob bly steeds tops. Kliek hier.