FOTO Instagram

FOTO Instagram

Het jy gehoor?

Beyoncé se fenomeen Lemonade

As jy nie die afgelope week die woord Lemonade iewers raakgelees het nie, het jy dit beslis gehoor. Beyoncé se album Lemonade is ’n wêreld-fenomeen! Dis nommer een op die Billboard se top-100-lys. En sy maak geskiedenis, want dis die eerste keer dat een kunstenaar op een slag 12 verskillende liedjies op dié lys het, berig Billboard.

So het die fenomeen begin: Beyoncé se Lemonade is op 23 April as ʼn visuele album op die Amerikaanse televisie-netwerk HBO bekend gestel. En kykers kon dit toe net op dié kanaal sien. Geen musiekvideo’s van dié album is op Beyoncé se YouTube-kanaal te vind nie. Kort daarna was dit te koop op die musiekplatform Tidal, wat besit word deur haar rapperman, Jay Z.

#LEMONADE The Visual Album Is available now on iTunes, Amazon and TIDAL.

A photo posted by Beyoncé (@beyonce) on

A video posted by Beyoncé (@beyonce) on

Die titel van haar album en een van die liedjies daarop weerspieël die gesegde “If life gives you lemons, make lemonade”. Die lirieke sinspeel ook op ’n tuisgemaakte limonade-resep wat haar ouma aan haar ma, Tina, oorgedra het en wat Beyoncé toe weer by háár gekry het sodat dit van geslag na geslag voortleef.

Sosiale kommentaar in die album laat die emosies hoog loop

Die gerugte van Jay Z se ontrouheid en bewerings dat hy haar verneuk het, word glo uitgewys in die liedjie “Sorry” se frase “Becky with the good hair”. Becky is ’n generiese verwysing na ʼn vrou wat vertroud is met seksuele dade.

Die verwysing spruit uit die satiriese novelle Vanity Fair wat William Makepeace Thackeray in 1847 geskryf het. Die hoofkarakter in die boek, Becky Sharp, gebruik sjarme om mans te verlei en die sosiale leer te klim. En later, in Mark Twain se Tom Sawyer, is daar Becky Thatcher met haar “Yellow hair plaited into two long tails” as die simbool van ‘n onbereikbare skoonheid.

Die mode-ontwerper Rachel Roy, sanger Rita Ora en Australiese rapper Iggy Azalea is van die name wat genoem word as moontlike Becky’s in Beyoncé en Jay Z se moeilike huwelik. Sy vra ook blatant in een liriek “Are you cheating on me?” en sê dan verder “You cheated on me and you will pay”. Jay Z en Beyoncé het glo aan die huweliksprobleme gewerk en hul verhouding is nou sterker as ooit tevore.

Sy lewer ook sterk politieke kommentaar oor haar grootwordjare as swart Amerikaanse vrou. In een van die video’s is ’n uittreksel uit ʼn Malcolm X-toespraak wat sê: “Die mees geminagte mens in Amerika is die swart vrou. Die mees onbeskermde mens in Amerika is die swart vrou. Die mees verwaarloosde mens in Amerika is die swart vrou.”

Een van die grootste kunstenaars van ons tyd

Sy word geloof en geprys vir haar werk as sangeres en veral vir haar werk op Lemonade, haar sesde album. Die musiekpublikasie Rolling Stone bestempel dié album as haar kragtigste standpunt tot nou toe.

Maar nie almal is gaande oor dié album nie. Die Britse joernalis Piers Morgan het haar op sosiale media gekritiseer.

Invloed op sosiale media

So groot is die invloed van “Beyhive”, aanhangers se noemnaam vir Beyoncé, dat die emoji van die suurlemoen en die by soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het. Wired berig dat die suurlemoen-emoji verlede maand in meer as 2 miljoen twiets verskyn het.

Twitter het die grafika bekend gestel

20160429_VGB Tag

Lees nou

Kerry Washington is swanger

Met Gala: skokke en gunstelinge op rooi tapyt

Is die perm op pad terug?