Zelda la Grange
FOTO: Phyllis Green

Zelda la Grange FOTO: Phyllis Green

Het jy gehoor?

Bikers for Mandela ry vanjaar ver

Bekendes gaan vanjaar weer op hul motorfietse spring om altesaam 2 255  km vir die Bikers for Mandela-veldtog af te lê. Hulle gaan van 16 – 20 Julie verskeie dorpe besoek, onder meer Beaufort-Wes, George, Knysna, Graaff-Reinet en Bloemfontein. Johrné van Huyssteen, Piet Croucamp and Karen Zoid is van die bekendes wat dié jaar met hul ysterperde deur die strate gaan brul.

Die veldtog, in samewerking met 1st for Women, vind vanjaar die sesde keer plaas. Dis oorspronklik begin deur Zelda la Grange, wat steeds die sameroeper is.

Bikers for Mandela sal dié jaar die Blow the Whistle-veldtog ondersteun deur fluitjies uit te deel aan die verskeie organisasies wat hulle besoek.

“Die doel van die fluitjies is om te verseker dat ’n vrou of kind daarop kan blaas vir hulp wanneer hulle kwesbaar voel. Só word hulle bemagtig,” sê Zelda.

Hulle beplan om onder meer die Vermont-ouetehuis op Knysna en die Phambili-skuiling op George te besoek. Die ouetehuis huisves meestal senior mense wat deur hul families verwaarloos is. Hier gaan die span in samewerking met 67 Blankets komberse aan die ouer mense uitdeel. Die Phambili-skuiling dien al van 1999 as tydelike veilige hawe vir tot 25 kinders en vroue. Hier wil hulle 67 minute deurbring om algemene herstelwerk te doen.

Bikers for Mandela kan net by sekere organisasies betrokke wees en kies dié in afgeleë gebiede omdat dit moeilik bereikbaar is. “Ons vestig die aandag van die gemeenskappe op sekere projekte in die hoop dat hulle betrokke sal raak en met die werk sal voortgaan,” sê Zelda.

Volgens Zelda hoef jy nie ’n bekende of iemand met status en ’n spesifieke beroep te wees om ’n verskil in die lewe van ander te kan maak nie.

“Ons wys vir mense dat jy verandering in jou gemeenskap kan bring deur net iets kleins te doen vir Mandela-dag. Selfs om vrede te maak met jou buurman kan goed genoeg wees,” sê sy

Of jy nou in die strate is met ’n motorfiets of ’n koppie tee vir iemand anders maak, is nie van belang nie. Solank jy net vir ’n oomblik die lewe van ’n ander persoon raak.