FOTO Clinton Lubbe

Het jy gehoor?

4 gunsteling-karakters verlaat ‘Binneland’

Die gewilde kykNET-sepie Binneland groet 4 van sy gunsteling-karakters. Dawid Minnaar (dr. Franz Basson), Elma Postma (Bea Basson), Neels van Jaarsveld (dr. Gideon Basson) en Odelle de Wet (Delia Richter) sal vroeg volgende jaar vir die laaste keer in dié sepie te sien wees.

Dawid Minnaar, wat die afgelope 7 jaar al die rol van die briljante breinchirurg speel, het nie sy kontrak vir die volgende seisoen hernu nie omdat hy besluit het om homself eerder aan teaterproduksies te verbind. En met dr. Franz Basson uit die storie, gaan sy vrou, Bea (Elma Postma), ook nie meer in die sepie te sien wees nie. Sy speel die rol van die hospitaal se maatskaplike werker. Neels speel die rol van dr. Gideon Basson, Franz se seun, maar het erken dat sy besige skedule dit moeilik maak om verder in Binneland te speel. Kykers het ook blykbaar uitgekuier geraak met At Koster se teenvoeter, Delia (Odelle de Wet) se karakter, en het dikwels op die sepie se Facebook-blad hul misnoeë te kenne gegee.

Mev. SA-finalis nou in Binneland

“Dit is inherent van die aard van ’n reeks wat daagliks uitgesaai word: Karakters word ingeskryf, hulle vervul ’n dramatiese rol en dan is dit tyd om te groet. Ons het net die hoogste lof vir die professionele wyse waarop hierdie akteurs hulle van hul taak gekwyt het en tot die reeks se sukses bygedra het. Ons wens hulle net die beste toe vir die toekoms,” sê Elsje Stark van Stark Films wat Binneland vervaardig. “Die geleentheid doen homself nou voor om dinamiese en interessante stories te vertel met vars, nuwe talent.”

Delia Richter en Gideon Basson sal tot einde Maart 2014 op die kassie verskyn. Met die koms van dr. Vivienne Armandt (Mary-Anne Barlow) in Januarie 2014 sal Franz Basson ’n moeilike keuse moet uitoefen; een wat sy toekoms saam met Bea en haar kinders, Morné (Ruan Wessels) en Louisa (Helena van Urk), in een van twee rigtings sal stuur … Kykers sal teen Mei 2014 weet wat die uiteinde van hierdie kardinale besluit is.

Binneland se dr. Tertius praat oor sy probleem

  • Clara Viljee

    Nie te slegte nuus oor die Binnelanders nie – mens word maar moeg vir die gewone karakters wat eintlik niks beteken vir die reeks nie.

    Frans, Bea en die kinders gaan heelwaarskynlik Kanada / Amerika toe verhuis vanwaar hy lesings gaan hou – Dawid is ‘n wonderlike toneelspeler en akteur en hy verdien iets meer diepers as ‘n sepie. Bea se rol is lankal uitgespeel en Elma sal seker ‘n aanbiederspos by Dagbreek of Kwëla kry – ai, daardie lippie van Dezzi wat die regisseurs so aanhoudend aan haar toedeel). Die kinders is nou in moeilike skooljare en ‘n breuk sal hulle goed doen – ek hoop net Ruan kry nog rolle – hy is die oulikste mens. (Ek neem aan Jan sal sekerlik weer een of ander skelmstreek uitdink en dan land hy in die tronk en die kinders word dan teen hierdie trauma beskerm).

    Wat At en Odelle betref – At (of te wel Hans) is lankal uitgedien. Odelle het nooit regtig in die rol as “feeks” goed oorgekom nie – sy is te mooi en te deftig – sy moet ‘n rol in een of ander glans reeks kry waar sy tot haar reg kan kom (LW ek kraak nie haar toneelspel af nie – vir die rol wat sy moes speel het sy baie goed gedoen maar vir my pas dit haar net nie). Hans is op pad 70 toe en sy rol in Binneland is sekerlik uitgedien. Ons as gesin het regtig moeg geword van hierdie ou man wat heeldag en aldag op almal se “case” is en die magspeletjies en die skrywers het partymaal regtig groot nonsens geskryf om hom in die sepie te hou. Ons intelligensie is heelwat onderskat sou ek dink.

    Alle geval, moet my nou asseblief nie kruisig of slegsê nie – onthou dit is my eie opinie waarop ek geregtig is en jy het die reg om jou eie opinie te lig sonder om my aan te val