Het jy gehoor?

Black Swan begin wys in SA

Dié sielkundige riller deur regisseur Darren Aronofsky het reeds vir Natalie Portman ’n Golden Globe-toekenning én ’n Oscar-benoeming besorg.

Dit gaan oor ’n ballerina wat die hoofrol in Swanemeer kry – sy is perfek vir die rol van die delikate Wit Swaan, prinses Odette, in Tsjaikofski se bekende balletstuk, maar kan sy ook die rol van die Swart Swaan, Odile, met oortuiging vertolk? Dis die uitdaging wat haar choreograaf en hoof van die balletskool, gespeel deur Vincent Cassel, aan Nina stel. Sy besluit om hom aan te vat en haarself te bewys as ‘n veelsydige ballerina wat haar goeie én donker kant kan wys. En die ‘natuurlike’ Swart Swaan in die balletgeselskap, Lily (gespeel deur die sensuele Mila Kunis), blaas in haar nek vir die rol en maak dinge beslis nie makliker vir Nina nie.

Maar soos sy in die rol groei, ontdek sy ’n donker kant van haarself en raak haar geestestoestand toenemend ‘donkerder’. Sy word soos die Swart Swaan, die dogter van ’n bose towenaar in die ballet.

Natalie Portman en Mila Kunis het ’n jaar voor produksie begin voorberei vir die fliek. Natalie het selfs ‘n rib beseer en moes erge pyn verduur tydens die dans-oefensessies. Albei moes byna 10 kg verloor en hulle het ure en ure in die ballet-ateljee spandeer om die karakters so geloofwaardig moontlik voor te stel.

* Gaan loer ook op die amptelike Black Swan-webtuiste

Kyk die voorprent hier: