Het jy gehoor?

Blog: Agter die skerms op Vir altyd se stel – Deel 1

Vir altyd is die nuutste fliek uit die kraal van Pad na jou hart se vervaardigers, skrywers én hoofrolspelers, Donnalee Roberts en Ivan Botha. En, soos Pad na jou hart, beloof dié rolprent groot dinge. Hulle hou ons weekliks op hoogte oor die verfilming. 

Die filmspan van Vir altyd het op Saterdag 15 Mei 2015 begin om die kameras te laat rol op ’n pragtige plaas met die Paarl se natuurskoon as agtergond.

Die eerste dag op stel het met groot opwinding afgeskop toe Caylem Else, Nicky de Kock en die viervoetige Teddy voor die lens ingeskuif het. Caylem en Nicky speel die kinderweergawes van die twee hoofrolspelers, Ivan Botha en Donnalee Roberts.

Dag een is op die Picardie Guest Farm buite die Paarl geskiet – die plaas is al vir 300 jaar in die besit van die Louw-familie. Die mooi gastehuis is nie net een van die hoofakteurs se huis in die fliek nie, maar ook die blyplek van die filmspan tydens produksie.

Die tweede dag is by die Stellenbosch Akademie vir Ontwerp en Fotografie geskiet. Die toneel wat hier plaasvind sal kykers terugneem na ’n era van fotografie wat byna vergete is – toe foto’s nog in ’n donkerkamer ontwikkel is.

Roeptyd vir dag drie en vier was baie vroeg en nog mistig en koud in Suider-Paarl. Die Hay-gesin, wat hul huis vir dié film geleen het, het saam met die bure die opwindende gebeure op die stel dopgehou. Akteurs Hélène Truter, André Stoltz en Geon Nel het op dié dae hul tonele verfilm.

Blaai deur die foto-album vir agter-die-skerm-foto’s op die stel

Vir altyd sal op 12 Februarie 2016 landwyd begin draai en SARIE tree as trotse mediavennoot op.

#VirAltyd #12Feb2016 

Ivan Botha en Donnalee Roberts saam met klein Ivan (Caylem) en klein Donnalee (Nicky). Hulle maak gereed vir die kamera.

Die bekende Picardie-dam by die Paarl – dis die uitsig waarmee die filmspan elke oggend wakker word.

Nadat Teddy onder Caylem se voete beland het, het hy ’n stukkie grond gekoop! Regisseur Jaco Smit het tot die redding gekom en vir Caylem tot op stel gedra.

Teddy vertolk die rol van Buksie in Vir altyd

Nicky de Kock vertolk die rol van klein Nina in Vir altyd

Jacques Koudstaal, kinematograaf van Vir altyd, in die donkerkamer tydens verfilming

Ivan Botha besig met een van die tonele wat in die donkerkamer afspeel

André Stoltz en Hélène Truter saam met Ivan Botha op die stel van Vir altyd

Vroegoggend op die stel van Vir altyd

’n Tipiese dag op stel

Die Vir altyd-filmspan wys die waterbottels waarmee Consol hulle bederf het