Het jy gehoor?

Blog: Agter die skerms op Vir Altyd se stel – Deel 3

Vir Altyd is die nuutste fliek uit die kraal van Pad na jou hart se vervaardigers, skrywers én hoofrolspelers, Donnalee Roberts en Ivan Botha. En, soos Pad na jou hart, beloof dié rolprent groot dinge. Hulle hou ons op hoogte oor die verfilming. 

Na die statige troue in die Toringkerk verlede week afgehandel is, kon die partytjie hierdie week voortgesit word op die stel van Vir Altyd.

By Rhebokskloof het ons die ligte vroegskemer begin oprig; die rookmasjiene het begin blaas en die kameras was reg om te rol om die geleentheid te vervolmaak voor die skerms.

Na die partytjie het ons afskeid geneem van die die twee nuwelinge, Caylem Else en Nicky de Kock. Almal het verlief geraak op die twee pragtige kinders wat die klein Hugo en klein Nina so mooi vertolk het.

’n Paar ander akteurs het ook klaargemaak op stel en ons moes totsiens, maar nie vaarwel sê aan Hélène Truter, Andre Stolz, Geon Nel en Deidre Wolhuter.

Die laaste week van produksie in die Paarl het op ’n hoogtepunt (letterlik en figuurlik) op die Paarl-rots afgesluit.

Ons is baie dankbaar teenoor die Drakenstein-munisipaliteit en -natuurreservaat wat ons gehelp het met die toegang en veiligheid op die rots.

Komberse, jasse, serpe en mussies was nie genoeg om ons op die rots warm te hou nie, maar gelukkig het ons vir Owen in ons span – die eenheidbestuurder wat ’n ketel aan die kook kon kry in die middel van nêrens.

So groet ons die Paarl, en ons tasse is gepak vir Mauritius!

Die filmspan maak gereed om die groot partytjie op kamera vas te vang.

’n Voorsmakie van een van die tonele wat vanaf 12 Februarie 2016 in Vir Altyd gesien sal word. Nina (Donnalee Roberts) geniet haar onthaal in die pragtige trourok deur Vesselina Pentcheva.

Mary-Sue Morris (haar- en grimeerkunstenaar) druk vir Nicky ’n laaste keer om totsiens te sê.

Soos hy belowe het, neem Jay Loots (stelfotograaf) vir Nicky en Caylem vir ’n kanorit ná hul laaste toneel.

Daar het ook trane gevloei met die laaste koebaai tussen Caylem en Jaco Smit (regisseur).

Niemand kon die konneksie tussen Hélène Truter en Andre Stolz op stel mis nie, en almal het net so lekker saam gelag!

Een van Geon Nel en Stiaan Smith se laaste tonele in die Paarl. Dit lyk of hulle vir Donnalee Roberts probeer oorreed om volgende week vir Geon saam te neem Mauritius toe.

Andre Stolz en Deidre Wolhuter in een van haar laaste tonele in die yskoue Paarl waar Consol Glass weer gehelp het om die aand baie mooi te maak.

’n Yskoue, maar beeldskone uitsig vanaf die Paarl-rots oor die mooi vlaktes. Ons is selfs bederf met ’n pragtige vroegoggend-reënboog.

Die eenheidspan sorg vir warm koffie wat almal baie vriendelik verwelkom het in die koue.

Barbara Brasington (haar- en grimeerassistent) maak seker Donnalee Roberts se lippe is nie blou van die koue op kamera nie.

Die eerste deel van die produksie word met ’n prentjiemooi slotparagraaf afgesluit.

Ivan, Donnalee en Jaco bedank en groet die vriendelike en behulpsame personeel van Picardie na drie weke se heerlike kuier op die gasteplaas.

Alle stelfotos word deur Jay Loots geneem.

Vir altyd sal op 12 Februarie 2016 landwyd begin draai en SARIE tree as trotse mediavennoot op.

Lees ook