Het jy gehoor?

Blog: Agter die skerms op Vir Altyd se stel – Deel 4

Vir Altyd is die nuutste fliek uit die kraal van Pad na jou hart se vervaardigers, skrywers én hoofrolspelers, Donnalee Roberts en Ivan Botha. En, soos Pad na jou hart, beloof dié rolprent groot dinge. Hulle hou ons op hoogte oor die verfilming. 

Danksy World Leisure Holidays het ongeveer 40 mense, 80 tasse en tientalle bokse veilig op Mauritius geland. Met dankbare harte omdat ons die reis moeiteloos kon voltooi, was dit ’n groter verligting om te besef dat ons die winter heeltemal ontsnap het. Wat ’n voorreg om hier te kan skiet! Behalwe vir die verfrissende skoon lug, heerlike son, idilliese wit strande, turkoois water en hoë palmbome, is dit die mense van die eiland wat vinnig in ons harte inkruip.

Die kamera het die afgelope week vyf nuwe gesigte op stel verwelkom: Wilson Dunster, Elize Cawood, Illse Roos, Dirk Stoltz en Sans Moonsamy. Saam met Ivan Botha en Donnalee Roberts het hulle baie tonele afgehandel wat afspeel by die fenomenale Long Beach Hotel, een van Vir Altyd se vennote en ook die hotel waar die Mauritius-deel van die rolprent lewe kry.

Die storie van Vir Altyd op Mauritius word ingekleur met plaaslike tradisies en kultuur. Ons het met behulp van die Mauritius Tourism Promotion Authority (MTPA) die voorreg gehad om ’n groep sega-dansers (danse eie aan Mauritius) en tradisionele dromspelers op die stel te hê. ’n Visbraai op die strand en ’n strandtroue was deel van die eerste week op dié idilliese eiland. Ons het ook wateraktiwiteite soos trapbootjies en onderwaterloop saam met die Aqua Adventure-groep geniet.

Aan die einde van die eerste week in Mauritius groet ons vir André Jacobs en Stiaan Smith wat hul karakters se reis op Mauritius kom afsluit het. Die res van ons sien uit na nog ’n opwindende week van skiet op die eiland en kan nie wag om alles op 12 Februarie 2016 met julle te deel nie.

Die akteurs arriveer almal by Long Beach. Van links staan Illse Roos, Dirk Stoltz, Sans Moonsamy, Donnalee Roberts, Elize Cawood en Wilson Dunster.

SummerTimes is ’n fantastiese vennoot van Vir Altyd. Hulle sorg vir die filmspan se vervoer op die eiland en was reg vir aksie toe die kameras begin rol het.

Die filmspan-girls lyk reg vir aksie. In die foto is Mary-Sue Morris (grimeerkunstenaar), Jackie Lotz (kunsregisseur), Jessica Jones (mode-assistent), Barbara Brasington (grimeerkunstenaar-assistent) en Lize Snyman (rekwisietemeester).

Sans Moonsamy en Dirk Stoltz besig om tradisionele Mauritius-danspassie te oefen op die strand.

Jaco Smit (regisseur) gee vir Donnalee Roberts (vervaardiger, skrywer en aktrise) ’n paar notas voor haar tonele begin.

Jacques Koudstaal (kinematograaf) gee bietjie persoonlikheid aan sy kamera met ‘n glimlaggesiggie en Vir Altyd-hoedjie.

Die produksiespan van Vir Altyd het met ’n groot glimlag aangepas in hul nuwe omgewing en die strandstoele in ’n kantoorarea omskep. Maricia Pieterse (produksiebestuurder) en Hannes Nortje (tweede assistentregisseur) geniet die uitsig terwyl hulle werk.

Die partytjie in Mauritius het met baie kleur, tradisie en kultuur afgeskop.

Marcel Noe (verteenwoordiger van die MTPA) staan langs Ivan Botha in die groep en het gehelp om die sega-dansers en dromspelers vir die aand se verfilming te reël.

’n Aangrypende strandtoneel in Vir Altyd om na uit te sien.

Die filmspan maak gereed vir nog ’n dag op die pragtige strand van Long Beach.

Ivan Botha en Donnalee Roberts met die 17 FILMStreet Media en Film Factory-klapperbord. Reg vir aksie!

Wilson Dunster en Elize Cawood kry die dag se oefening in op een van Long Beach se trapbootjies.

Illse Roos, Elize Cawood en Donnalee Roberts se karakters geniet die Placecol-produkte en ’n heerlike spa-oggend by Long Beach se pragtige buitelug-spa.

Dankie aan Placecol vir die produkte wat hulle aan die produksie verskaf het.

Vir altyd sal op 12 Februarie 2016 landwyd begin draai en SARIE tree as trotse mediavennoot op.

Lees ook