Het jy gehoor?

Blog: Agter die skerms op Vir Altyd se stel – Deel 5

Vir Altyd is die nuutste fliek uit die kraal van Pad na jou hart se vervaardigers, skrywers én hoofrolspelers, Donnalee Roberts en Ivan Botha. En, soos Pad na jou hart, beloof dié rolprent groot dinge. Hulle gee vir SARIE.com ’n eksklusiewe kykie agter die skerms. 

“In die laaste week van produksie was ons op verskillende toeriste-uitstappies. Ons eerste stop was by La Vallee des Couleurs, ’n bekende baken waar 23 verskillende kleure in die berge en dale van Chamouny gesien kan word.

Die volgende dag het ons saam met die Mauritius Tourism Promotion Authority (MTPA) ’n Colour Festival, wat uniek aan Mauritius se ryk kultuur is, bygewoon. Dié spesiale fees het plaasgevind by die pragtige Belle Mare-ruïnes, ’n murasie waar ’n suikerfabriek jare gelede afgebrand het. Die kleure, danse en humor van die dag het gesorg vir baie opwinding en ’n aangrypende atmosfeer voor die kamera.

’n Plaaslike mark in die Flacq-omgewing was die volgende bestemming. Die groot verskeidenheid mense, besige smouse en stalletjies met groente, speserye, klere, skoene en fieterjasies het gesorg vir ’n pragtige palet waar nog ’n lekker toneel in Vir Altyd geskilder kon word.

Ons het ook die natuurskoon van Mauritius vanaf ’n katamaran op die see aanskou. ’n Vloot regatta-bootjies wat in die agtergrond seil, het die belewenis op die boot afgerond. ’n Dag van skiet op die water vol opwinding én uitdagings.

Baie dankie aan julle almal wat Vir Altyd se produksie-blog gevolg het. Om die avontuur verder saam met ons voort te sit, like ons Facebook-blad by Vir Altyd Film en twiet saam by @Viraltydfilm. Ons kan nie wag om op 12 Februarie 2016 alles met julle te deel op die grootskerm nie.

Ivan Botha en Donnalee Roberts neem ’n blaaskans tussen tonele by die pragtige uitsig oor La Vallee des Coulleurs in die suide van Mauritius.

Jacques Koudstaal (kinematograaf) en sy span is besig om ’n aksievoertuig gereed te kry vir die reis na die toeriste-aantreklikhede van Mauritius.

Die kamera rol terwyl Hugo (Ivan Botha) en Nina (Donnalee Roberts) deur die pragtige suikerrietlande in Mauritius ry.

Ivan en Donnalee saam met die groep plaaslike agtergrondspelers voordat die kleur begin spat het by die “Colour Festival”.

’n Voorsmakie van ’n toneel by die Belle Mare-ruïnes waar die “Colour Festival” sal plaasvind.

Ivan Botha en Donnalee Roberts in die Flacq-mark.

Die tientalle stalletjies by die kosgedeelte van die Flacq-mark lyk só. ’n Prettige toneel uit Vir Altyd is die afgelope week hier verfilm.

Tussen die werk deur geniet die meisies die mark. Jessica Fitzcharles (bemarking), Barbara Brasington (grimeer- en haarassistent) en Mary-Sue Morris (grimeer- en haarkunstenaar).

Die akteurs in ’n ry op die katamaran. Agter hulle skarrel die span om alles gereed te maak voor daar met verfilming begin word. Donnalee Roberts, Ivan Botha, Dirk Stoltz, Illse Roos, Elize Cawood en Wilson Dunster.

Die son sak agter die berge met die katamaran waarop baie tonele op dié dag geskiet is.

Die vloot regatta-bootjies bring nuwe kleur in die toneel met die verbyseil.

’n Pragtige oomblik tussen Wilson Dunster en Elize Cawood agter die skerms van Vir Altyd.

’n Toneel word op die rotse by Long Beach Hotel verfilm.

Die filmspan se vrou is almal bederf met ’n lekker Placecol- produk en hemp. Nog ’n vennoot van Vir Altyd.

Die Vir Altyd-filmspan wil baie dankie sê aan World Leisure Holidays en Long Beach wat hierdie wonderlike ervaring moontlik gemaak het.

Vir altyd sal op 12 Februarie 2016 landwyd begin draai en SARIE tree as trotse mediavennoot op.

Lees ook