FOTO Thore Noernberg Whale Watching

FOTO Thore Noernberg Whale Watching

Het jy gehoor?

Blouwalvis in net verstrengel in Kalifornië

Dis walvistyd in die Kaap, maar langs die kus van Kalifornië in die Stille Oseaan veg reddingspanne verbete om ’n blouwalvis se lewe te red.

Dié sagmoedige reus in nood het SARIE se aandag reeds Maandag getrek. Ons hou die reddingspoging dop.

Dié walvis van so 25 meter se penarie is Maandag raakgesien tydens ’n walvis-besigtigingsafari aan die kus van Dana Point in Suid-Kalifornië. Die walvis het nie geswem of geduik soos hy normaalweg sou nie en het tekens van moegheid getoon. Die kolossale dier het 61 meter se visnet en boeie aan sy stert deur die water gesleep. Die net is glo swaar genoeg om die walvis af te trek, berig CNN en die Los Angeles Times.

Dit is buitengewoon dat ’n blouwalvis, die grootste soogdier op aarde, so naby aan die kus swem. ’n Lugvideo wys hoe die walvis duik en herhaaldelik sy kop uit die water lig en abnormaal swem terwyl die reddingsboot in sirkels om die walvis vaar. Die laaste nuus oor die reddingspoging was dat die walvis gister in die skemerure geduik en nog nie weer gesien is nie. Die reddingspoging duur voort.

In 2016 alleen is 40 voorvalle van walvisse wat in nette aan die weskus van Amerika verstrengel geraak het, aangemeld.

In Suid-Afrikaanse waters sal die suidelike noorkapper, Bryde- en die boggelrugwalvisse binnekort te sien wees. Dié walvisse soek jaarliks tussen Junie en November veilige hawe in ons baaie om te kalf.

10 feite oor die blouwalvis

1. Dié walvis is die koning van die oseane en die grootste dier wat nog ons planeet bewoon het. Hulle is 30 meter lank en kan tot 200 ton weeg.

2. Die tong alleen weeg soveel soos ’n olifant en hul hart is so groot soos ’n klein motor.

3. Blouwalvisse leef van plankton en sekere tye van die jaar verorber ’n volwasse walvis tot 4 ton kos per dag.

4. Onder die water is hulle ’n ware blou, maar bo die water is hulle ’n meer gespikkelde grysblou.

5. Die blouwalvis is ’n grasieuse swemmer en beweeg gewoonlik teen ’n gemaklike 8 km per uur. In stresvolle omstandighede kan hulle tot 32 km per uur beweeg.

6. 1 600 kilometer! Dit is hoe ver dié walvisse mekaar kan hoor. Hulle kommunikeer deur “walvistaal”, ’n reeks kerm- en kreungeluide.

7. Die baba-walvis word ’n jaar lank in die baarmoeder gedra, en by geboorte is dit reeds 8 meter lank. Die kleintjie drink moedersmelk en raak in sy eerste jaar elke dag 90 kg swaarder.

8. Blouwalvisse leef tussen 80 en 90 jaar, hoewel 110 jaar al opgeteken is.

9. Natuurbewaarders reken tussen 10 000 en 25 000 blouwalvisse deurkruis nog ons oseane nadat hulle veral tussen 1900 en 1960 vir hul olie gejag is. Hulle is geklassifiseer as ’n bedreigde spesie en is op die Wêreldbewaringsunie se gevaarlys (die rooilys).

10. Blouwalvisse swem soms in klein groepe, maar meestal alleen of twee-twee. Somermaande is die Noord- en Suidpool se waters hul tuiste en wintertyd beweeg hulle nader aan die ewenaar. (Inligting: National Geographic)

Het jy geweet? In die rolprent Finding Dory “praat” die hoofvissie, Dory, “walvis”. In die prent sê Dory (Ellen DeGeneres se stem): “I speak whale!”

BRON: CNN, The Guardian, National Geographic, Los Angeles Times