FOTO Unsplash

FOTO Unsplash

Het jy gehoor?

Bly só veilig op die internet

Op die internet is niemand veilig nie. Kuberkrakers het al vanjaar Facebook se Mark Zuckerberg geteiken, Pippa Middleton se iCloud is vroeër dié week gekraak en nou was ons eie Olimpiese swemmer Cameron van der Burgh ook ’n slagoffer.

Netwerk24 (agter betaalmuur) berig die Fancy Bears, wat gereeld bekende atlete teiken en hul mediese rekords verklap, het nou ook Cameron se rekords gepubliseer. Dié groep het die teenopkikker-bestuurstelsel Adams gekraak waar professionele atlete se rekords lê.

Cameron van der Burgh met sy goue medalje in 2012  FOTO Phyllis Green

Cameron van der Burgh met sy goue medalje in 2012
FOTO Phyllis Green

Maar hoe gemaak om met jou eie rekords veilig te bly en te keer dat iemand jou wagwoord kraak? Hier is 5 wenke. Én maak seker jy tik jou e-posadres by die webtuiste Have I Been Pwned in wat vir jou kan sê of jou wagwoorde al ooit op ander webtuistes gelek is.

Is jý veilig?

Het jy al ooit jou bankrekening via jou slimfoon besoek of rommelpos (spam) tussen jou e-posse gevind? Dis tyd dat jy jouself beskerm!

1. Gebruik verskillende wagwoorde, nie net een nie

Dit is dalk maklik om net een wagwoord te onthou, maar in hierdie geval gaan die maklike roete jou nie beskerm nie! Gebruik verskeie wagwoorde om jouself en jou privaatheid te beskerm. Kuberkrakers is oral en altyd op soek na ’n geleentheid. As Twitter se wagwoorde en e-posadresse byvoorbeeld weer lek, is daar nie ’n kans dat kuberkrakers in jou ander sosiale media profiele kan ingaan as jy verskillende wagwoorde vir die onderskeie profiele het nie.

2. Maak jou koordlose konneksies veilig

As jy Wi-Fi by die huis het, verander die naam van jou konneksie en stel ’n wagwoord op. abc News waarsku ook dat jy versigtig moet wees wat jy alles op jou selfoon en rekenaar doen wanneer jy op die Wi-Fi van ’n openbare plek (soos ’n koffiewinkel of ’n internet-kafee) werk.

Hotspot Shield is ’n gratis program wat jy kan aflaai om seker te maak jou konneksies is veilig.

3. Koop net by veilige aanlyn winkels

Daar is twee maniere om seker te maak dat die aanlyn winkel waar jy koop, veilig is. Kyk eerstens of “HTTPS” voor die skakel van dié webtuiste staan én of daar ’n slot-ikoon langs die webtuiste se skakel verskyn. Vul eers daarna jou kredietkaartbesonderhede in.

internet veilig

Via se Sieners oor die bangmaakwoord: tegnologie

4. Beskerm jou slimfoon ook met ’n wagwoord

Deesdae het jy selfs meer inligting op jou slimfoon as op jou rekenaar. Dink daaraan: die meeste apps op jou selfoon gaan net in op jou profiel en baie skakels onthou jou wagwoord. Stel dus ’n wagwoord op jou slimfoon en oorweeg sagteware soos McAfee om jou selfoon te beskerm teen virusse en apps om jou wagwoorde ook te beskerm. Vind hierdie programme op jou Google Play-winkel.

veilig internet beskerm

5. Weg met spam!

Kry jy allerhande vreemde e-posse waarvoor jy nooit ingeteken het nie op jou gmail-e-posrekening? Nou kan jy die besigheid vind wat jou e-pos aan ander stuur!

As jy ooit weer jou e-pos aan ’n webtuiste gee om byvoorbeeld hul nuusbrief te ontvang, tik jou adres só in:

STAP 1: As jou gmail-adres byvoorbeeld chantel@gmail.com is, tik nou chantel+”die webtuiste se naam”@gmail.com in.

STAP 2: Google herken nie die “+”-teken nie en ook nie enigiets wat daarna staan nie. Tik dus net ná die “+” die naam in van die webtuiste waarop jy is.

STAP 3: As jy nou ’n nuusbrief ontvang waarvoor jy glad nie gevra het nie, kyk na watter adres hulle dit gestuur het. Jou e-posadres hoort “chantel+die webtuiste@gmail.com te lees. Ta-da! Jy het die webtuiste gevind wat jou e-posadres aan ander uitgegee het!

FOTO Unsplash (Alexander Filonchik)

FOTO Unsplash (Alexander Filonchik)

BRONNE: abc news, Digital Trends, Via se Sieners, The Guardian, The New York Times

  • Elmarie Wepener

    Dankie vir die wenk, maar dit alreeds maak dit onveilig vir mense. Enige iets wat Google aanbetref is ‘n riller. Geniet die dag en dankie dat u ons belang op die hart dra. Groete Elmarie Wepener