FOTO: Jurie Potgieter/ Heilo Public Relations

FOTO: Jurie Potgieter/ Heilo Public Relations

Het jy gehoor?

Bobbi Brown swymel oor Lira

Elke Sondagaand is sanger Lira die toonbeeld van elegansie as een van The Voice SA se vier afrigters.

Dit is dus geen verrassing dat die Amerikaanse grimeerkunstenaar Bobbi Brown Lira in Maart as haar skoonheidshuis (ook Bobbi Brown) se eerste Suid-Afrikaanse ambassadeur gekies het nie.

“My Suid-Afrikaanse span het my van Lira vertel en ek was in vervoering, nie net oor haar skoonheid nie, maar ook oor haar stem, haar agtergrond en haar sukses. Sy’s die perfekte rolmodel vir my handelsmerk,” het Bobbi vroeër die maand in ’n onderhoud met Lira gesê.

Hoewel Lira vandag straal van selfvertroue, moes sy leer om haar voorkoms te aanvaar en te omhels. Die grootste lesse oor skoonheid het sy by een van haar ikone, die legendariese Miriam Makeba, geleer.

Miriam-Makeba-DRUM-cover

Een van Drum se ikoniese voorblaaie met Miriam Makeba

“Vir my was dit baie belangrik om ’n Suid-Afrikaanse vrou te sien wat haar natuurlike skoonheid die hele wêreld oor met trots dra. Dit het my gewys dit is oukei om te lyk soos ek lyk. Dit was kragtig om te besef my natuurlike hare is mooi, my velkleur is mooi, my vol lippe is mooi,” het Lira tydens die onderhoud gesê.

Vir Lira is dit ’n eer om Bobbi Brown se ambassadeur te wees. “Ek is mal oor grimering. My boodskap aan vroue is dat dit iets is wat jou help om goed te voel, sonder om enigiets weg te neem.”

Maar Lira se eerste skoonheidsherinneringe is nie ’n sprokiesverhaal nie. “Dit was vir lank [vir vroue van kleur] ’n kwessie om die regte onderlaag te vind. Ons vel het of te olierig gelyk, of te vaal. Ons het nie juis grimering gebruik nie, want daar was nie veel opsies om uit te kies nie. Maar jy moet sien hoe my ma deesdae grimering doen! Daar’s nou soveel meer beskikbaar. Dis ’n opwindende tyd vir vroue van kleur.”

Lira het aanvanklik rekeningkunde gestudeer, gekwalifiseer en begin werk, maar op 23 het sy bedank en haar sangloopbaan aangepak.

Ek hoop my suksesse sal ander ook inspireer. As jy in die Daveyton-township [aan die Oos-Rand] grootword, word jou lewe gevorm deur die harde werklikhede van die lewe. Dit was beklemmend. Dit het my gemotiveer om uit te breek en my drome te volg.

- Lira in SARIE se Mei 2012-uitgawe

Bobbi is opgewonde oor haar samewerking met Lira: “Dit is opwindend om hierdie sterk vrou, halfpad om die wêreld van my af, te hê!”

sr1205lira

FOTO: Jurie Potgieter/ Public Relations

– Die onderhoud met Lira en Bobbi Brown het oorspronklik in die Sunday Times verskyn.

Lees nou