FOTO Getty Images / Gallo Images

Het jy gehoor?

‘Slegte buurvrou’ Nicole Kidman

Die meeste mense was al in een of ander stadium vies vir hul bure. Maar Nicole Kidman se buurman het hom só vervies dat hy regstappe teen haar geneem het.

Die Oscar-bekroonde aktrise woon bo Leonard Steinberg, eienaar van die verskeringsmaatksappy Nationwide Property & Casualty, in ’n luukse woonstelblok in Manhattan. Hy glo sy is verantwoordelik vir sowat ’n halfmiljoen rand se skade aan sy woonstel.

Die Moulin Rouge! ster het glo koperpype sonder behoorlike isolering by haar luukse woning laat aanbring.

Die pype kon nie die ysige wintertemperature weerstaan nie, het geswel en gebars. Leonard se woonstel, wat onder Kidman s’n geleë is, het in die proses oorstroom.

Die 47-jarige aktrise kan sekerlik die $46 000 (R540 700) lag-lag opdok, maar ons moet maar wag en kyk of sy dit wel gaan doen. Leonard het gister die hofstukke vir die skadevergoedingseis ingedien.

Nicole en haar man, die country-sanger Keith Urban, het dié woonstel in Desember 2010 vir $10 miljoen (R117 miljoen) gekoop. Dit is ’n ruim dupleks met ’n uitsig oor die Hudson-rivier. Boonop het elke woonstel toegang tot ’n hyser wat motors ophys tot die parkeervlak op die boonste vloer.

Nicole Kidman en Keith Urban FOTO: Gallo Images / Getty Images

Nicole Kidman en Keith Urban
FOTO: Gallo Images / Getty Images

Bron: Mail Online en New York Daily News