FOTO: Gallo Images / Getty Images

Het jy gehoor?

Cameron Diaz oor ouderdom en ma-wees

Aktrise Cameron Diaz het tydens ’n onderhoud met Esquire verduidelik waarom sy nie wil kinders hê nie. 

Cameron Diaz is een van daardie gelukkige vroue wat net nie oud word nie. Ons kon nie glo toe ons nou die dag hoor dat sy 41 geword het nie! Sy lyk goed vir haar ouderdom, maar dit is veral haar houding oor haar jare en haar lewe wat ons interessant vind.

Sy vertel aan Esquire:

Ek hou daarvan om 41 te wees. Soveel onnodige, negatiewe dinge val weg … meestal vrees. Dit is die beste ouderdom. Dis die tyd wanneer ’n vrou weet hoe dinge werk, óf sy gee net nie meer daaroor om nie. Jy hou net op om bang wees.

cameron diaz

Cameron Diaz se fotosessie vir Esquire

Sy het ook aanvaar dat sy nie ’n ma is nie – en ook besef dat sy eintlik nooit een wou wees nie. “Ek hou daarvan om mense te beskerm, maar ek was nooit aangetrokke tot die idee van ma-wees nie. Om nie kinders te hê nie maak dinge makliker – maar dit maak dit nie ’n maklike besluit nie … ”

Tog het sy baie respek vir ma’s, veral wanneer dit kom by die uitdaging om ‘n gesin en ‘n Hollywood-beroep te balanseer, berig Refinery29 Entertainment. Soos  een van haar goeie Hollywood-vriendinne Drew Barrymore.

Cameron speel die hoofrol in die nuwe komedie Sex Tape teenoor Jason Segel. Dit is die eerste keer in haar lang loopbaan dat sy poedelnaak voor die kamera sal wees.

Sex Tape begin 22 Augustus in Suid-Afrikaanse teaters draai.

Bronne: Esquire en Refinery29 Entertainment