verskaf
Het jy gehoor?

Cameron van der Burgh se ma gesels oor sy Olimpiese sukses

Ná Cameron die goue medalje gewen het, het Bev letterlik honderde boodskappe van gelukwensing ontvang. Maar die een wat die meeste beteken het, was die een wat Cameron self vir haar gestuur het. “Dankie dat Ma altyd by my staan en my ondersteun, ek sou dit nie op my eie kon doen nie, ek is lief vir Ma,” het die SMS gelees.

“Ná die wen het ek en Cam se pa, sy broer, Andrew, en sy meisie, Jana, saam met vriende gaan uiteet om die goue medalje en wêreldrekord te vier. Toe Cameron later daar opdaag, het daar chaos uitgebreek. Almal in die restaurant wou ’n foto van hom neem. Hy kon nie eens vir ons die medalje wys nie!” sê Bev.

Dat Cameron ’n trots- SA suksesstorie is, is vir Bev wonderlik. “Baie Suid-Afrikaners gaan na Amerika vir afrigting omdat daar beter fasiliteite is, maar Cameron het bewys dit kan op eie bodem ook gedoen word.” Hy is baie na aan sy familie en vriende, en het besef hy sou nie gelukkig wees weg van sy mense nie. En geluk is uiteraard baie belangrik om op jou beste te kan presteer.

“Daardie goue medalje het meer hart en betekenis as net die geluk van die wen,” vertel Bev. “Hy het geswem vir sy oorlede vriend, die Noorweegse swimmer Alex Dale Oen, wat vroeër vanjaar op die ouderdom van 26 aan ’n hartaanval oorlede is.” Cameron wou op die podium met ‘n foto van Alex staan, maar is nie toegelaat om dit te doen nie. In ’n mediakonferensie ná hy die goue medalje gewen het, het hy gesê dit het gevoel asof Alex saam met hom geswem het en hom gehelp het om te wen.

Maar dit was ook jare se gedetermineerde oefening, fokus en toewyding wat die 24-jarige swemmer van Pretoria die wêreldrekord laat breek het. “As ek nou terugkyk, was daar altyd tekens dat Cameron die talent sou hê om Olimpiese goud te wen,” sê Bev.

Hy is as kind met ADD gediagnoseer en sy ouers het hom aangemoedig om sport te doen om van die ekstra energie ontslae te raak. Op die ouderdom van 10 het hulle agtergekom hy het talent vir swem toe hy by die interhuis-gala gewen het. In daardie stadium het hy nog geen afrigting gehad nie. Op 11 het hy die SA skolespan gehaal en in Australië gaan deelneem. En soos hulle sê, die res is geskiedenis …

Maar op 16 het Cameron van ’n duikplank afgeval en sy enkel gebreek. “Dit was ’n ramp,” onthou Bev. “Dit was ’n slegte breuk en hy moes ’n operasie ondergaan. Net tien dae ná hy uit die hospitaal ontslaan is, het hy my gevra om hom gimnasium toe te neem.” Bev onthou sy het gelag en vir hom gevra wat hy daar gaan doen, aangesien hy met krukke geloop het. Sy antwoord was dat net sy een been in gips is, en dat hy die res van sy liggaam fiks en sterk kan hou.

“Nadat die penne verwyder is en sy fisioterapie agter die rug was, is hy dadelik terug in die water. Dis toe dat ek besef het hy is regtig ernstig oor swem en dat niks hom sal keer om te kry wat hy wil hê nie.”    

Ná sy fantastiese swem en die wêreldrekord het Cameron vir Bev gesê hy dink sy hele lewe gaan verander. “Ek dink nie hy besef hoe baie sy lewe gaan verander nie. Op die oomblik voel hy baie tevrede en opgewonde.”