Het jy gehoor?

Catherine Zeta-Jones praat oor Michael se gesondheid ná kanker

Die 43-jarige aktrise het bevestig Michael Douglas is steeds in remissie nadat hy in 2010 met keelkanker gediagnoseer is. Volgens haar is haar man gesond en gelukkig.

Daar was gerugte uit Hollywood dat Michael weer siek is.

Maar Michael werk op die oomblik hard aan twee groot rolle in biografiese films. “Michael is baie gesond. Hy gaan nou Ronald Reagan én Liberace speel … dit is fantasties!” het Catherine aan die Britse Marie Claire gesê.

Die film Reykjavik handel oor die vergadering in 1986 tussen die Amerikaanse president Ronald Reagan en Mikhail Gorbachev van die Sowjet-Unie in die hoofstad van Ysland, Reykjavik. Daar is reeds bespiegelings of Michael ook in aanmerking vir ’n Oscar gaan kom nadat Daniel Day-Lewis een gewen het vir sy rol as die Amerikaanse president Abraham Lincoln.

In Behind the Candelabra speel Michael die flambojante musikant Liberace. Matt Damon is sy medespeler in dié prent.

Catherine, wat vroeg vanjaar drie films op die grootskerm het, sê sy sal eerder groot rolle prysgee om meer tyd saam met haar gesin deur te bring. Catherine en Michael het twee kinders, Dylan Michael Douglas (12) en Carys Zeta Douglas (9).

 “Ek is gelukkig met my lewe, my kinders en my man. Ek het ’n lewe en ander akteurs het nie.” 

Kyk wat het Catherine Zeta-Jones in ‘n onderhoud met Ellen gesê: