FOTO: Instagram @nadiabeukes

FOTO: Instagram @nadiabeukes

Het jy gehoor?

Celeb-resep: Nadia Beukes se ‘Soet-sout teekoek à la Ouma’

SARIE.com hoor elke Vrydag by bekendes wat hul gunsteling-resep vir die naweek is. Dié week het ons by TV-persoonlikheid Nadia Beukes gaan aanklop.

“Ek is nie juis so knap in die kombuis as wat ek graag sou wou wees nie, maar ek hou beslis daarvan om mense te bederf. Wanneer ek dus die tyd en die geleentheid kry, geniet ek dit om ’n poging aan te wend agter die potte en ietsie aanmekaar te slaan … soms met groter sukses as ander kere,’’ vertel die aktrise, wat in die romantiese komedie Mooirivier speel.

’n Resep wat haar nog nooit in die steek gelaat het nie, is dié uit ’n handgeskrewe resepteboek van haar ouma, Jane Greyling. “Dit het ’n spesiale plek in my hart omdat dit my aan haar herinner en die eindresultaat is ’n smullekker sout-soet kombinasie wat in ’n japtrap voorberei word. My ouma noem dit haar Teekoek.’’

FOTO: Nadia met haar ma, Eureke Beukes, en ouma Jane Greyling.

FOTO: Nadia met haar ma, Eureke Beukes, en ouma Jane Greyling.

Nadia se Soet-sout ‘Teekoek à la Ouma’

Wat het jy nodig?

 

  • 1 koppie suiker
  • 3 eetlepels botter
  • 1 eier
  • 1 ½ koppie meel
  • 2 teelepels bakpoeier
  • knippie sout
  • 1 koppie melk
  • Bovril
  • ‘n halwe koppie gesmelte botter
  • 1 koppie gerasperde kaas

Wat doen jy?

  • Klits die botter en suiker tot romerig
  • Klits die eiers goed en voeg dit by die botter en suikermengsel.
  • Sif al die droë bestanddele by en meng.
  • Voeg die melk ook by.
  • Bak in ’n gesmeerde oondbak teen 180 grade C vir 30 tot 40 minute.
  • Sodra die koek uit die oond kom, smeer ’n lagie Bovril op en gooi die halwe koppie gesmelte botter bo-oor.
  • Strooi die gerasperde kaas oor, sit effe warm voor en eet sommer dadelik ’n stukkie saam met ’n lekker koppie tee.

“As jy weet daar is gaste op pad, of selfs as hulle onverwags opdaag, kan jy hulle binne ’n uur bederf met dié lekkerny. Dit is bekostigbaar, eenvoudig om voor te berei en besonder lekker, veral as jy soos ek en my ouma hou van koek en tee.”

Nóg celeb-resepte