FOTO: Twitter @Jana_Fischer

FOTO: Twitter @Jana_Fischer

Het jy gehoor?

Celeb-resep: Jana Fischer se chicken phyllo money bag

SARIE.com hoor elke Vrydag by bekendes wat hul gunsteling-resep vir die naweek is. Vandeesweek het ons by aktrise Jana Fischer gaan aanklop.

“Ek het my man, Stephan Niehaus, in die begin van 2013 ontmoet. Een van sy vele pogings om my hart te wen, was deur my maag. Ja, nie net die pad na ‘n man se hart is deur sy maag nie! Die grootste belangstelling wat ek en Stephan deel, is kos. Ons hou van lekker eet en geniet dit om nuwe resepte te probeer.

FOTO: Facebook  Jana Fischer

FOTO: Facebook Jana Fischer

“Dié resep is een van vele wat hy vir my gemaak het en ek ook later self geleer het. Ek maak dit graag vir gaste wat oorkom vir ete. Dit is elke keer ’n reuse-sukses! Ek maak altyd ekstra, want die meeste mans vra vir nog ’n porsie.

“Dit is ’n maklike resep en jy kan die bestanddele na smaak aanpas. Ek gooi gewoonlik ‘n bietjie meer wyn by, want dit en die tiemie is my gunsteling-smake in die gereg. Jy kan dit maak lank voor jou gaste opdaag. Wanneer dit etenstyd raak, kan jy gou die mengsel weer opwarm, dit in die deeg skep en bak.

“Omdat die resep so ’n groot sukses was, het ons besluit om dit een van die geregte by ons restaurant te maak. Dit is vir seker een van ons beste verkopers, daarom deel ek dit graag met SARIE-lesers. ’n Glasie witwyn gaan goed met dié pastei. My gunsteling hierby is ’n bottel Nitída Semillon. Andersins sal enige goeie chenin blank ook die ding doen.”

FOTO: Twitter @Jana_Fischer

FOTO: Twitter @Jana_Fischer

Chicken phyllo money bag (maak 2 pasteie)

Wat het jy nodig?

  • 20 ml olyfolie
  • 500 g hoenderborsies
  • 50 g botter (hou ekstra byderhand om die filodeeg mee te borsel)
  • 300 g gemengde sampioene
  • 30 g gekapte, vars tiemie
  • growwe sout en swartpeper
  • 50 ml witwyn
  • 150 ml room
  • 4 velle filodeeg
FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Wat doen jy?

Deel 1

  • Verhit oond tot 180 grade C
  • Verhit olie in pan en braai hoenderborsies oor matige hitte, voeg sout by. Ek verkies om die borsies heel gaar te maak, pleks van in repies. Dit help dat die hoender sappig bly.
  • Verhit botter in ander pan en braai die sampioene met gekapte tiemie. Voeg sout en peper na smaak by.
  • Laat hoender afkoel.
  • Gebruik twee vurke en skeur die hoederborsies in fyn repies.
  • Voeg die hoender by die sampioenmengsel en verhit oor ’n hoë hitte.
  • Voeg  witwyn by en kook tussen 2 en 3 minute.
  • Voeg room by en laat dit kook vir so 2 minute. Maak seker die mengsel brand nie aan nie, stel die hitte laer indien nodig.
  • Maak seker daar is nog klein bietjie sous in die pan en verwyder dit van stoof. Die sous help dat die pastei nie in die oond droog word nie, maar te veel sous kan weer die deeg laat skeur terwyl jy die deegpakkies voorberei – skat maar mooi.
FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Deel 2

  • Plaas 2 velle filodeeg op ’n plat oppervlak en skep die helfte van die hoender-en-sampioen-mengsel in die middel van die deeg.
  • Vat nou al vier hoeke van die deeg, bring die punte na mekaar en vou dit toe soos ’n geldsakkie.
  • Gebruik ’n kombuiskwassie en smeer die deeg liggies met botter.
  • Sny die punte van die deeg netjies af. Moenie te veel afsny nie, anders gaan die vulsel mors.
  • Herhaal metode met die res van die mengsel.
  • Bak in die oond vir omtrent 20 minute of tot die pastei ligbruin is.

Die porsies is baie groot. Deel die mengsel in vier indien jy kleiner porsies wil hê.

Nóg celeb-resepte