Celine Lees nou
Het jy gehoor?

Céline Dion gebruik Disney om die dood te verduidelik

Vroeër vanjaar het Céline Dion se man en voormalige bestuurder, René Angélil, sy stryd teen kanker verloor. Die paartjie was vir 22 jaar getroud en het drie kinders saam. Toe Céline vir haar 6-jarige tweeling moes verduidelik oor René se dood, het sy die Disney-rolprent Up gebruik.

In ’n eksklusiewe onderhoud met ABC het Céline gesels oor dié kosbare en hartseer oomblik. In die rolprent Up (2009) is die karakter Carl met Ellie getroud en ná dekades saam sterf Ellie skielik.

“En toe sê ek, onthou julle die fliek Up – dis ons gunsteling – Ellie het opgegaan (ná haar dood). Wel, vandag het Pappa ook opgegaan, want Pappa was baie siek. Hy het nie ’n seer keel gehad nie, hy het nie maagpyn gehad nie, hy het nie oorpyn gehad nie. Maar Pappa het ’n buisie in sy maag gehad … Pappa kom nie meer terug nie, maar Pappa het opgegaan. Maar om op te gaan is ’n goeie ding. En ons gaan dit nou vier, want Pappa is nie meer in pyn nie.”

Céline het juis die vergelyking gebruik om te verhoed dat haar tweeling, Eddy en Nelson, bang raak vir die dokter en vir die dood. Sy het toe saam met hulle ballonne vrygelaat en vir René gesê hoe lief hulle hom het. Ballonne is ’n groot simbool in Up.

Kyk die roerende onderhoud hier:

Hier’s die toneel uit Disney se Up wat Celiné as voorbeeld gebruik het:

Op Sondag, 22 Mei, word Céline by die Billboard-musiektoekennings vereer met die Icon-toekenning vir haar bydrae tot die musiekbedryf. Dié toekenning is in 2011 gestig en Neil Diamond, Stevie Wonder, Prince en Jennifer Lopez het dit al jare gekry.

Céline sal ook optree en Queen se treffer “The Show Must Go On” sing.

Bronne: ABC, Billboard

Lees nou

Sanger Céline Dion verloor haar René