Het jy gehoor?

Chad le Clos se pa oor sy televisie-advertensie

Aan die einde van my lewe gaan ek elke oomblik onthou. Dit was ongelooflik om die advertensie te skiet en later op TV te sien. Dit was eintlik onwerklik. En met die positiewe terugvoer is dit regtig net lekker.

Toe ek ’n ruk terug uit die gimnasium stap, het die Sharks-rugbyspelers ‘Beast’ Mtawarira en JP Petersen ‘Unbelievable’ vir my begin sing. Dit was ongelooflik – twee Springbok-rugbyspelers het mý herken en vir my gesing!

Toe SuperSport my oor die advertensie bel, het ek eers nee gesê. Maar hulle het weer en weer gebel. Uiteindelik het Chad my oortuig om dit te doen. Ek leer hom altyd om sy demone aan te durf. Toe sê hy ek moet ophou om ’n lafaard te wees en my eie raad volg! Nou ja, ons was byna sewe uur in die ateljee. Ons het die hele dag gewerk. Die span was fantasties, vriendelik en behulpsaam. Ek het so af en toe die woorde vergeet. Dan het hulle my kalmeer en gehelp.

En weet jy wat het die mense my begin noem? Nat King le Clos! Ek is nie regtig ’n aanhanger van Nat King Cole nie, ek verkies ballades en romantiese musiek. Maar ek het ook nog altyd gedink ek sing net mooi as ek in die stort is! Nou dink ek die advertensie klink darem heel goed. As seun was my droom om ’n sanger te word, so my familie lag nou lekker. Maar ek soek nie roem nie. Buitendien, ek is nie die ster nie, my seun is.

Elke deel van die ervaring was onbeskryflik. Dis lekker as mense jou ken en waardeer. Maar ek is steeds net wie ek is.”

Kyk dié advertensie hieronder: