FOTO: Gallo Images / Getty Images

FOTO: Gallo Images / Getty Images

Het jy gehoor?

Charlize Theron verken haar donker kant

Charlize Theron bewys oor en oor dat sy haar man in Hollywood kan staan. En vandeesweek het sy die eerste vroulike skurk van The Fast and the Furious-reeks geword!

Volgens Deadline sal die Oscar-wenner volgende jaar in Fast 8 te sien wees saam met die aksiesterre Vin Diesel, Dwayne Johnson en Scott Eastwood.

Sondagaand is Charlize as die beste aktrise aangewys by die MTV-rolprenttoekennings vir haar rol in Mad Max: Fury Road. Dis die eerste keer dat sy erkenning vir haar spel as Furiosa ontvang het, ’n rol wat kritici meen ’n kragtoer was.

Poster-mad-max-fury-road-02b

Destyds, toe die Oscar-nominasies aangekondig is, het die internet gegons van ongeloof oor Charlize nie vir haar spel in dié aksieprent genomineer is nie. Kritici reken dit het als te make met die genre van die rolprent.

In 2015 het die regisseur van die Mad Max-reeks, George Miller, verklap dit was Charlize se idee om haar karakter se hare te skeer. Huffington Post berig dat al die vroue baie gretig was om hul hare te skeer, maar dat die mans gekla het oor hul nuwe borselkop-haarstyle!

Oor die jare het ons gesien hoe Charlize vreesloos haar donker kant verken. Sy het immers in 2004 ’n Oscar vir beste aktrise gewen vir haar spel as die reeksmoordenaar Aileen Wuornos in Monster. Sy het ’n metamorfose ondergaan om in die vel van dié karakter te klim.

Sy vertolk ook vanjaar vir ’n tweede keer die bose koningin Ravenna in die opvolg van die  2012-rolprent Snow White and the Huntsman. By Maandag se Los Angeles-première van The Huntsman het Charlize saam met nog twee sterk vroue geskitter, Jessica Chastain en Emily Blunt.