Charlize Theron FOTO: Gallo Images / Getty Images

Charlize Theron FOTO: Gallo Images / Getty Images

Het jy gehoor?

Charlize wéér op die Oscar-verhoog

Charlize het Suid-Afrikaners in 2004 trots gemaak toe sy die Oscar vir Beste Aktrise gekry het vir haar rol in Monster. En vanjaar gaan sy weer op die verhoog wees, dié keer as aanbieder.  

Vanjaar se Oscar-aand is op 24 Februarie by die Dolby Teater in Hollywood. Ander sterre wat die goue beeldjie gaan oorhandig is Robert Downey Jr. (Iron Man), Jean Dujardin (wat verlede jaar met die Best Akteur-beeldjie weggestap het vir sy rol in The Artist), Meryl Streep (The Iron Lady), Channing Tatum (The Vow) en Daniel Radcliffe (Harry Potter).

Adele (sy is genomineer vir Skyfall, die temalied van die jongste James Bond-film met dieselfde naam), Norah Jones én Barbra Streisand gaan ook by die glansaand optree. 

Maar dit wat vóór die seremonie gebeur, is wat akteurs, aktrises en stiliste saans laat wakker lê: die rooi tapyt. Rokke, pakke, skoene, juwele en hare moet perfek wees wanneer die sterre voor die kameras verskyn.

Jennifer Lawrence

Jennifer Lawrence, wat in Charlize se spore kan volg indien sy die Beste Aktrise-toekenning ontvang vir haar rol in Silver Linings Playbook, het reeds aan die media gesê haar rok is iets om na uit te sien.

“Ek het al daaroor gedink en ons het al sketse gemaak, maar ek het nog nie op iets besluit nie,” het die 22-jarige aktrise gesê.

“Die vorige keer wou ek gemaklik wees [sy het in 2011 die Oscars in ’n eenvoudige rooi Calvin Klein-rok bygewoon], maar dié jaar sê ek vir myself: ‘Hou op kla! Dra ’n korset!’ Hierdie keer kies ek iets modieus.”

Jennifer, wat die huidige seisoen al wat ’n toekenningseremonie is bygewoon het, het tot dusver nie ’n groot fout met enige van haar rokkeuses gemaak nie. Inteendeel, mense voorspel dat sy ’n mode-ikoon kan word.

Al weet ons nie hoe Jennifer se rok gaan lyk nie, is ons byna seker dit sal ’n Raf Simons-skepping van Dior wees omdat sy as die nuwe gesig van Miss Dior aangewys is.