Chris Chameleon in die FAK liedjietuin

Het jy gehoor?

Chris Chameleon word beskermheer van FAK-liedjietuin

Die geliefde FAK-liedjietuin in Pretoria het onlangs sy eerste beskermheer gekry, en wie beter vir dié eer as sanger Chris Chameleon?

Die FAK-liedjietuin by die Voortrekkermonument in Pretoria gee erkenning aan ons Afrikaanse musieklegendes. Dis hier waar kunstenaars soos Christa Steyn, Lucas Maree en Louis van Rensburg vereer word vir die reuse-bydrae wat hulle lewer tot die ontwikkeling van Afrikaans.

Die liedjietuin bestaan op die oomblik uit 165 naamrose van Afrikaanse kunstenaars en liedjies in samewerking met Ludwig’s Roses. Die lirieke van die mooiste Afrikaanse liedjies kan op granietplate gelees word.

Chris Chameleon, bekroonde en veelsydige Afrikaanse kunstenaar, is onlangs aangewys as dié mooi plek se eerste beskermheer.

Chris is bekend vir sy vieroktaaf-stem en stralende verhoogpersoonlikheid. Hy het Suid-Afrikaners se harte in 2005 gesteel met die album Ek herhaal jou, waar hy Ingrid Jonker se gedigte getoonset het. Chris se nuutste album Herleef: Psalms en Gesange gee ’n vars klank aan ’n reeks bekende kerkliedere.

’n Voorsmakie van Chris Chameleon se nuwe album

Chris het reeds vyf Suid-Afrikaanse Musiektoekennings (Sama’s). In 2007 het hy ook die FAK-toekenning vir Besondere Kultuurprestasie ontvang en vier van sy liedjies is in die nuwe FAK-Sangbundel (Volume 2) opgeneem.

Doen ’n bietjie moeite en gaan besoek die FAK-liedjietuin by die Voortrekkermonument om weer eens te besef met hoeveel legendes die Afrikaanse musiekbedryf kan spog.

Chris Chameleon en Danie Langner, die besturende direkteur van die FAK

Chris Chameleon en Danie Langner, die Besturende Direkteur van die FAK