FOTO Leana Clunies-Ross

FOTO Leana Clunies-Ross

Het jy gehoor?

Is Christia Visser dalk ons nuwe Charlize?

Sy het die wysheid van ’n veteraan, maar ’n kop so vars soos die blos op haar wange. En nou is die wêreld besig om dié SA talent raak te sien. Christia Visser was onlangs in Hollywood en is boonop daar deur ’n agent genader. 

Christia speel in die opspraakwekkende fliek Alison oor Alison Botha se verkragting en brutale aanval in 1994, wat deels rolprent deels dokumentêr is.

Sy en die vervaardiger, Uga Carlini, was onlangs in Hollywood by die Dances With Films-rolprentfees, waar dit ook dié rolprent se internasionale première was.

Sy gesels met SARIE se styl- en sosiale redakteur, Fanie Cronjé, oor dié ervaring.

“Die rolprentfees was in die Chinese Teater in Hollywood-boulevard. Alison kon nie saamgaan nie, maar ek en Uga was daar. Die fliek is goed ontvang, hoewel daar nie so baie mense kom kyk het soos ons gehoop het nie. Die gehoor het so 80% uit mense uit die filmbedryf bestaan en ons kon Alison lekker bemark.

“Daar het ’n casting director my ook gekontak. Ons sal sien waarheen dit lei, maar as ’n casting director jou raaksien, is dit gewoonlik goed. Want sou daar ’n geleentheid opduik, het hulle jou in gedagte.”

Christia het ook reeds ’n bestuurder in Amerika, maar dink nie nou al daaraan om te gaan nie. “Daar is geen rede om nou te gaan nie. Dit gaan nou goed met my in Suid-Afrika.”

Buiten die uitdagende rol van Alison, speel Christia nóg ’n uitmergelende karakter in Tess. Dié rolprent waarin sy ’n sekswerker van Muizenberg speel en waarvoor sy as beste aktrise by die Durbanse Internasionale Filmfees bekroon is, word later vanjaar uitgereik.

Christia sê sy kies nie noodwendig swaar rolle nie. Dit kom na haar kant toe.

“Ek voel dis stories wat vertel moet word.”

- Christia Visser

“Dit het my laat groei as aktrise én as mens. Maar as daar ’n romantiese komedierol na my kant toe kom, en ek dink die rol is belangrik en kan vir mense iets beteken, dan sal ek dit ook speel.”

Volgens die tegniese ouens op die stel van Tess is Christia een van die beste met wie hulle nóg saamgewerk het. En die laaste een was Charlize Theron. “Ek het gewonder of ek dít moet oorvertel,” sê sy in ons Januarie-uitgawe, “maar ek sal die kompliment ewig in my hart dra. Ek bewonder Charlize ongelooflik baie.”

Alison word op 12 Augustus landwyd uitgereik.