FOTO: Facebook  Ciske Kruger

FOTO: Facebook Ciske Kruger

Het jy gehoor?

Ciske Kruger gesels oor Binnelanders en die baba wat op pad is

Die aktrise Ciske Kruger is een van die dae in Binnelanders te sien. Sy gesels met SARIE.com oor dié karakter en oor haar tweede baba, wat vroeg volgende jaar gebore word.

Ciske, ’n professionele haarkapper met haar eie salon, het vir vriende gesê sy mis toneelspeel – net ’n paar dae later het Binnelanders haar genader om in dié gewilde sepie te speel. “Dit was pret om op die stel van Binnelanders te werk,” vertel Ciske. “Almal is baie vriendelik en daar heers ’n rustige atmosfeer.”

Sy sê Zeldine, die karakter wat sy vertolk, het ’n opwindende storielyn saam met die nuwe plastiese chirurg in die hospitaal, Steve Abrahams, wat deur Clint Brink gespeel word. Dr. Steve is getroud, maar Zeldine kom krap dinge bietjie deurmekaar …

“Sy gaan ’n paar kykers ontstel, maar ek glo ook hulle sal verstaan waarom sy doen wat sy doen. Sy is op soek na ware liefde, maar probeer dit op die verkeerde maniere en by die verkeerde mense vind.”

Ciske het vir vyf weke geskiet en dit was vir haar ideaal. “Ek moes net ateljee toe gaan wanneer ek in ’n toneel was, en kon daarom my tye by die salon só reël dat ek steeds by alles kon uitkom.”

Tog is ’n besige skedule nie meer hoog op Ciske se prioriteitslys nie. Sy het verlede week op haar Instagram-blad aangekondig dat sy en haar man, Kristof, ’n baba verwag.

“Ons is ongelooflik opgewonde!” vertel sy. Ons wou nie te lank wag om swanger te raak ná die troue nie, en toe gebeur dit sommer dadelik.” Sy en Kristof is in Mei vanjaar getroud.

“Ons is nie honderd persent seker nie, maar dit lyk asof dit ’n dogtertjie is. Jy is gelukkig as jy ’n seun en ’n dogter kry, maar ek is reeds gewoond aan dogtertjies en gee glad nie om nie.” Hulle het ook reeds besluit om haar Klara Kruger te noem. “Dan het sy en haar pa dieselfde voorletters,” sê Ciske trots.

Ciske beplan om tot middel Januarie in die salon te werk. “Die baba kom middel Maart, maar omdat ek as haarkapper heeldag op my voete is, gaan ek vroeër met kraamverlof.”

Haar dogter, Amelie, wat uit haar huwelik met die akteur Ivan Botha gebore is, vier môre haar 6de verjaardag.

Lees ook