Lynne Hanna FOTO: Verskaf deur Clarins

Lynne Hanna FOTO: Verskaf deur Clarins

Het jy gehoor?

Clarins se Lynne bereik Everest-piek

SARIE.com het die afgelope paar weke met groot opgewondenheid die berg Everest dopgehou. In Mei-maand het die eerste groep buitelanders weer die bekende bergpiek aangepak ná 2 jaar van ongelukke waarin talle stappers en hul gidse dood is. 

Onder die buitelanders is Lynne Hanna, hoof- uitvoerende beampte van die skoonheidshuis Clarins in die streek Afrika suid van die Sahara, en haar man, Noel.

Ons volg hul roete en vordering via GPS-koördinate en dit lyk asof hulle vanoggend nog die piek van die berg Everest gaan bereik.

Jy kan hulle ook HIER volg.

Dit is die derde keer dat Lynne Everest trotseer. Noel, wat die berg vir die agtste keer gaan uitklim, was nog elke keer aan haar sy en dié keer is geen uitsondering nie. Tydens Lynne se eerste Everest-tog in 2005 het Noel sy sig tydelik verloor weens retinale bloeding en sy het besluit om saam met hom halt te roep. Met haar tweede probeerslag het sy die kruin vanaf die suidekant van die berg (in Nepal) bereik.

Dié keer pak sy Everest van die noordekant (in Tibet) aan, nes haar eerste, onsuksesvolle keer. Hierdie kant word as die moeiliker een beskou omdat dit kouer en meer winderig is. Die roetes is ook minder bekend. As sy wel bo uitkom, sal sy die eerste vrou in Brittanje en Ierland wees (Lynne is van Ierland) wat Everest se hoogste punt van albei kante kon bereik. Sou Noel dit ook doen, sal hulle die eerste getroude paartjie in die wêreld wees wat dit kon regkry.

“Dít is natuurlik ’n groot motivering,” het Lynne aan Charis van den Heever, SARIE se skoonheidsredakteur voor hul vertrek gesê. “Maar ek het myself sielkundig voorberei dat die weer dalk nie gaan saamspeel nie en ek die geleentheid gaan misloop om tot bo te klim. As dit die geval is, sal ek dit aanvaar.”

FOTO: Verskaf deur Clarins

Lynne en Noel Hanna. FOTO: Verskaf deur Clarins

Vir die meeste van ons klink dit onmoontlik om byna 9 000 m in ysige koue teen ’n berg op te klouter. “Ek doen dit juis omdat dit moeilik is. Ek is my hele lewe lank al lief vir ’n uitdaging. Ek hou ook daarvan om vir ’n tyd lank heeltemal verwyderd van die res van die wêreld te wees, om vir dae lank nie ’n enkele e-pos te lees nie. Al wat jy doen is eet, slaap, klim, eet, slaap klim. Die afsondering is bevrydend. Jy voel so klein daarbo op die berg en besef van voor af hoe asemrowend die aarde is.”

Lynne glo dit is binne enigiemand se bereik om die toppunt van die wêreld te bereik. “Solank jy betreklik fiks is.” Sy het nie haar oefenprogram aangepas nie. Sy het net die laaste maand of wat meer oefeninge vir haar bolyf gedoen. “Om jou kop reg te kry is veel belangriker. Jy moet gefokus bly, konsentreer op jou asemhaling en eenvoudig die een voet voor die ander sit.”

lynne hanna clarins

Lynne tydens een van haar vorige Everest-reistogte. FOTO: Verskaf deur Clarins

Dat Noel saam met haar klim, maak die ondervinding effens makliker. “Maar eintlik is jy maar op jou eie. Jy kan nie op enigiemand anders staatmaak om jou bo te kry nie. Jou kop en lyf moet sterk genoeg wees om dit alleen te doen.”

Om haar kantoor op te pak voor sy vertrek is al ’n tradisie. Dit laat haar kalm voel voor die sowat 40 dae se uitmergelende stappery. Dan bly daar net ’n paar dae oor om klaar te pak. More-aand sal sy haar familie in Ierland oor Skype groet. En dan hou sy en Noel ’n ordentlike Suid-Afrikaanse braai. Die briewe wat sy vir haar ma, pa, twee susters en broer geskryf het, word veilig weggebêre. Dít sal hulle net lees sou sy nie terugkeer nie. “Hierdie is ’n ding wat jy nie ligtelik moet opneem nie.”

lynne hanna clarins

Lynne saam met Christian Courtin-Clarins, voorsitter van Clarins se toesighoudende raad en seun van die stigter van dié Franse skoonheidshuis. FOTO: Verskaf deur Clarins

*Clarins borg Lynne se Everest-reistog. Volg Lynne en Noel se reis op Facebook by HannaEverest2016. Clarins sal ook van tyd tot tyd inligting oor Lynne se vordering deel op hul Facebook-blad by Clarins South Africa.