FOTO: Leana Clunies-Ross

FOTO: Leana Clunies-Ross

Het jy gehoor?

Corné Crous gaan in New York verder studeer

Corné Crous, bekend vir haar rol as Kim in 7de Laan, gaan volgende jaar New York toe om vir twee maande ’n kursus te volg in toneelspel, berig Netwerk24.

Tot en met haar vertrek is Corné voor én agter die skerms op verskeie film- en TV-stelle aan’t werk en leer. “Ek dink dit is in dié stadium belangrik om jouself toe te rus sodat jy alles kan doen. Jy kan nie nié weet wat agter die skerms gebeur nie,” vertel sy aan Netwerk24.

Dit is nog nie duidelik of sy 7de Laan permanent verlaat nie.

Die aktrise Donnalee Robberts, wat die rol van Annelie in 7de Laan vertolk het, het drie jaar gelede aan dieselfde filmskool studeer. Ná die kursus het sy haarself as filmskrywer en vervaardiger gevestig met Afrikaanse flieks soos Pad na jou hart en Vir Altyd wat in 2016 bekend gestel word. Sy gee vir Corné raad:

“New York is ’n stad met ’n konstante ritme. Die mense daar is uiteenlopend en daar is soveel kulture op een plek,” vertel Donnalee aan SARIE.com.

“Corné gaan dit baie geniet. Sy is baie kreatief en hardwerkend, en met daardie ingesteldheid gaan sy baie leer. By die New York Film Academy sal jy uitkry wat jy insit. Jy kry geleentheid om oor die hele stad op plekke soos Times Square en Central Park op studente-filmstelle te werk. Dis praktiese ondervinding saam met passievolle mense van letterlik die wêreld oor.”

Haar raad aan Corné is om elke kans wat sy kry voluit aan te gryp. “Voel en ervaar alles wat jy kan, neem soveel moontlik in en geniet dit!”

As aktrise en vervaardiger wil Donnalee nooit ophou leer nie. Sy is dors vir kennis en baie lief vir toer … “Daardie paar maande in New York het my siel gevoed.”

Bron: Netwerk24

Lees ook