Het jy gehoor?

“Cristina” deel haar laaste oomblikke op Grey’s

Die aktrise Sandra Oh het onlangs ná nege jaar as dokter Cristina Yang in Grey’s Anatomy klaar gemaak met haar werk vir dié gewilde TV-reeks.

Sy het op haar Twitter-blad vertel dat verlede week haar laaste week by dié reeks was. Die aktrise het gesê sy kon nie glo dat dit reeds tyd geword het om klaar te maak by Grey’s Anatomy nie.

“By my laaste deurlees. Baie emosies. Tot siens begin,” het die aktrise vroeër die maand op haar Twitter-blad gedeel saam met ’n foto van die Grey’s-span wat deur hul tonele lees.

“Ek voel ek het alles gegee wat ek kon, en ek voel gereed om haar (dr. Yang) nou te laat gaan,” het Sandra gesê toe sy in Augustus aangekondig het dat sy die reeks aan die einde van die tiende seisoen gaan verlaat.

Grey’s se McDreamy wys jou hoe die moderne gentleman lyk

Hoewel ons reeds geweet het dr. Christina gaan die reeks verlaat, het die emosie onlangs weer hoog geloop toe dié seisoen, wat tans ook in Suid-Afrika uitgesaai word, klaarmaak met verfilming. Sandra het dié foto en boodskap met haar laaste dag op stel gedeel.

Die aktrise se medespelers was self hartseer om te groet. Kevin McKidd (Cristina se kêrel, dokter Owen Hunt) het ook op sy Twitter-blad sy hartseer gedeel.

Cristina-aanhangers op Twitter het emosioneel reageer toe Sandra dié foto van haar en Kevin met een van hul laaste tonele saam op dié sosiale netwerk gedeel het.

Dít het Ellen Pompeo se troue uniek gemaak

Ook Ellen Pompeo, wat die rol van Cristina se beste vriendin, Meredith Grey vertolk, het haar kollega op sosiale media gegroet.

“Só trots op die werk wat ons saam gedoen het. Ons het gelag, ons het gehuil, ons het groot uitdagings oorwin terwyl ons saam gespeel het,” het sy op haar Instagram-blad vertel en dié foto gedeel.

In Suid-Afrika kan ons gelukkig nog uitsien na ’n paar episodes met Cristina voordat die 10de seisoen van Grey’s Anatomy eindig. Intussen kan jy ook ’n groot verrassing verwag wanneer iemand uit Cristina se verlede weer op die skerm verskyn …

WAT DINK JY? GAAN GREY’S ANATOMY DIESELFDE WEES SONDER DIE GEDREWE DR. CRISTINA? Lewer kommentaar hier of op SARIE se Facebook– of Twitter-blad.