Het jy gehoor?

Daar’s ‘n kriek in Villa Rosa

Nuuskierig oor wat in Maart in die Villa gaan gebeur? Ons laat die aap uit die mou … of liewer: die kriek.

Kriek is ‘n nuwe gesig, vyfde jaar mediese student aan die universiteit van die Vrystaat. En sy word gespeel deur Elizma Theron, wat haar eerste verskyning op Maandag 9 Maart maak.

“Dit was ‘n ongelooflike ondervinding en nóg ‘n lewensdroom wat waar geword het,” borrel Elizma. “Die ander akteurs was so tegemoedkomend, en het my met ope arms ontvang. Dit was ‘n groot eer om langs iemand soos Lieb Bester te staan, op dieselfde stel. Hy is net ongelooflik. Ek het tyd gemaak om al twee my passies uit te leef, my sang en toneelspeel. Die ondervinding het my soveel van myself en wat ek kan doen, geleer.”

Nog ‘n nuwe gesig is David Louw. David is van Vrede in die Vrystaat en woon tans in Pretoria. Hy was voorheen te sien in produksies soos Paulus, Samoerai en Hillside. Hy speel die rol van Petrus Steyn, ‘n sportbestuur-student wat uit die koshuis geskop is.

En dan die aksie …

Op 25 Maart is die Villa die ene aksie, wanneer Chris (Pierre Breytenbach) na die Villa terugkeer om sy kind te kom haal. Vuurwapens, polisie en chaos!

Die Villa groet ook vir Beatrix Erasmus (Jackie Schoeman). Beatrix was 5 jaar deel van die span. Sy en haar man Herman Hardick (Ben Retief) is in 2008 getroud en het Knysna toe getrek.

*Villa Rosa, Maandae tot Donderdae om 19h30 op kykNET