Het jy gehoor?

Dana Winner kuier saam met SARIE se Facebook-fans

Dana was totaal oorweldig deur die feit dat dié vroue so ver gery het, selfs so ver soos Kroonstad, om saam met haar te kuier.

“Ek het die middag baie geniet, hulle was sulke vriendelike en entoesiastiese mense!” het Dana ná die tyd vertel.

Fanie, Dana en SARIE-Facebook fans

Haar liefde vir Suid-Afrika is ‘n tipiese liefde-met-die-eerste-oogopslag-geval toe sy die eerste keer hier kom optree het. Sy hou veral van die vriendelike mense en wonderlike natuurskoon. Die feit dat sy haar loopbaan hier kon bevorder, en nog altyd baie gewild is in ons land, maak dat sy altyd sal terugkom.

Sy is so ‘n sielvolle mens, jy wonder soms waaruit put sy haar energie en inspirasie. “Ek kyk na talentvolle mense, na mense wat regtig hard werk om hul drome te verwesenlik, en alles met oorgawe en passie doen. Hulle inspireer my die heel meeste.”

Om suksesvol te wees is vir Dana ‘n voorreg, maar dit kom ook met ‘n groot verantwoordelikheid. “Jy kan nie ‘n CD uitreik wat nie so goed is soos jou vorige nie, en jy kan nie ‘n konsert hou wat nie so goed soos die laaste een is nie. Jy moet heeltyd verbeter op wat jy doen, omdat jou eie verwagtinge, én dié van die gehoor, telkens hoër is.”

Dana hou daarvan om haar eie ding te doen. “Jy moet jou eie unieke styl vind, maak nie saak wat jy doen of in watter bedryf jy is nie. Dit is goed om jou persoonlike stempel op iets af te druk, of iets oorspronkliks te skep.”

Sy en Steve Hofmeyr is goeie vriende en sy sal moontlik in die toekoms weer saam met hom werk. “Hy is baie professioneel en ons stemme pas baie goed bymekaar. Dit sal lekker wees om weer saam met hom te sing.”

Dana sien baie uit na die toer wat moontlik in September gaan plaasvind (hou sarie.com dop vir besonderhede!). “Dit is altyd lekker om iets aan my getroue ondersteuners terug te gee en lojaal te wees tenoor hulle. As kunstenaar het ek daardie energie nodig wat ek kry wanneer ek op ‘n verhoog staan en die reaksie van die gehoor beleef.”

SARIE se styl- en sosiale redakteur, Fanie Cronjé, het saamgekuier. Dís wat hy te sê gehad het . . .

Ek het heerlik saam met Dana, haar kêrel, Mark Brouwers, en ons wenners, Karin Swanepoel en Annelise de Witt, gekuier. En ‘n meer perfekte plek vir ‘n tradisionele high tea as The Palazzo Montecasino kan jy nie kry nie.

Daar was silwer-koekstaanders met komkommer-toebroodjies, en ander met koue vleis en artisjokke. Ook staanders met suurlemoentert en botterbroodjies met room en aarbeikonfyt. En natuurlik: kolwyntjies met toringhoë versiersuiker en klein doughnuts.

Ons het byna die hele middag lank gekuier oor verskeie koppies koffie en tee, en gesels oor verskillende lande, dorpe, kompetisies wen, konsert hou, die Krugerwildtuin en Steve Hofmeyr.

Elkeen van die wenners het ‘n SARIE-geskenkpak ontvang en Dana het hulle verras met haar jongste CD.

* Jy kan volgende keer saamkuier! Word vandag nog ‘n fan van SARIE op Facebook!

 

 

  • Elize

    Eish julle, nou is ek so spyt ek het nie maar siek gespeel en saam kom kuier nie!! Ek is jaloers op julle fotos, maar op ‘n mooi manier!!!

    Ek is net bly julle girls het die tydjie saam Dana Winner geniet!

  • Karin

    Wat ‘n wonderlike ervaring en herinnering! Dit was werklik ‘n voorreg gewees. Dankie aan SARIE weereens!