Danie Odendaal destyds in 2010.

FOTO Phyllis Green

Danie Odendaal destyds in 2010. FOTO Phyllis Green

Het jy gehoor?

Danie reg om 7de Laan te groet

Vir 17 jaar was 7de Laan deel van die vervaardiger en skepper Danie Odendaal se lewe. Maar nóú is hy reg om die Laan te groet.

Huisgenoot het eksklusief berig dat Danie en sy vrou, Annie Basson, volgende jaar gaan verhuis na Langebaan aan die Weskus. Lees die volledige storie in die nuutste Huisgenoot.

Gister het aanhangers bekommerd geraak oor gerugte dat hul geliefde sepie dalk Maandag van die lug af gaan wees.

Danie se produksiehuis dek sedert Augustus self die onkoste van dié sepie. 7de Laan se kontrak loop in ʼn jaarsiklus en word elke jaar Augustus hernu, maar dit het nog nie dié jaar gebeur nie. Dit dwing die vervaardigers om self die produksiekoste te dra.

Gisteraand het Netwerk24 berig dat die SABC en Danie Odendaal Produksies se onderhandeling oor die nuwe kontrak in sy finale fase is.

7de laan nuwe look

In 2010 het SARIE by Danie gaan inloer. Hier volg ’n uittreksel uit SARIE se Mei 2010-uitgawe.

Dit het alles in die 70’s in ’n koffiewinkel in Melville, Johannesburg, begin. Danie Odendaal het vir ’n vriend sit en wag en om hom rondgekyk, en daar was hulle almal – 7de Laan se karakters.

“Hilda” het oorkant hom gesit, die oujongnooi met die serpie om haar nek wat aan ’n snytjie anchovy toast geknibbel het. “Madel” het ingestap, formidabel en belangrik. ’n Kelnerin het in haar mini-rompie rondgetrippel en ’n jong sjef het ’n paartjie buite gegroet …

Destyds al het Danie ’n sepie oor alledaagse mense vir die SAUK voorgestel. Maar die uitsaaier het gevoel kykers is nog nie reg daarvoor nie, en die idee is laai toe.

Toe Egoli in 1992 begin, is Danie as hoofskrywer aangestel. Ná agt jaar daar het hy gevoel hy’t ’n versadigingspunt bereik en het hy weer, saam met Annie Basson, wat ook by Egoli gewerk het as “boksvervaardiger’’ (die regisseur se tweede paar oë), aan die 7de Laan-konsep begin skaaf.

’n Sepie oor gewone mense wat by mekaar se lewens betrokke raak? Dit kon ’n treffer wees, of misluk. Maar dit was ’n sukses.

Sommige mense by 7de Laan noem hom ’n beheervraat, erken hy self. “In die begin het ek dit ontken, maar deesdae dink ek ek ís seker een, anders sou ek nie hierdie werk kon doen nie.”

Danie het aan die Universiteit Stellenbosch, die Sorbonne-universiteit in Parys én Trinity College in Cambridge, Engeland, studeer.

“Ek het altyd geglo ek sou as ’n lektor êrens eindig, maar toe ek by die Engels-departement by Wits begin klasgee, was dit nie stimulerend genoeg nie. Ek wou self skeppend wees, nie iets wat ander mense geskep het aan taamlik belangelose studente opdis nie. Toe TV in SA begin, het ek as regisseur by die SAUK gaan werk en dadelik tuis gevoel.”

Danie destyds saam met Donnalee Roberts en Amalia Uys. FOTO Verskaf

Danie destyds saam met Donnalee Roberts en Amalia Uys.
FOTO Verskaf

Het jy ooit gedink 7de Laan gaan so ’n groot sukses wees?

Ek het in die konsep geglo, maar dit was ’n groot geloofsprong. Destyds was sepies glitzy en dit het ’n Amerikaanse gevoel gehad. Maar ek het geweet jy identifiseer nooit op dieselfde vlak met iemand van The Bold and the Beautiful soos met iemand op straat nie. Jy sal nie glo hoeveel mense het al vir my gesê Hilda en Oubaas is soos hulle nie. Dan dink ek behoede ons, want hulle is sulke eienaardige karakters!

Watter karakters het jou verras?

Ek word elke dag deur die karakters verras. Een van hulle was Paula. Sy’t as Connie se niggie begin. Diaan Lawrenson sou oorspronklik net vir tien opnames deel wees van 7de Laan. Toe bring ons haar terug. Haar karakter het stelselmatig gegroei. Die ander karakter wat my verwagtinge oortref het, is ou Claratjie. Die kykers was van die begin af mal oor haar. Ons het gesien Angelique Gerber (wat Clara speel) het talent. Sy moes eenvoudig terugkom. Simphiwe, wat in 2003 saam met Matrone pasteie verkoop het, het die publiek se hart aangeraak. Simphiwe en sy pies sou ’n grappie van twee episodes wees. Die storielyn het uiteindelik vir 30 episodes geloop.

Wat wil jy nog in jou loopbaan bereik?

Ek kan seker ’n gesonder balans tussen my werk en persoonlike lewe probeer handhaaf. Maar as ek heeltemal eerlik kan wees: Ek is dolgelukkig met dít wat ek nou doen.

Lees nou

Victoria Beckham se verrassende velsorggeheim

4 foto’s waaroor die internet nou gons

Minki se look vir ‘Boer soek ’n vrou’