FOTO Willem Lourens

FOTO Willem Lourens

Het jy gehoor?

Desiré Gardner se nagmerrie

Toe aktrise Desiré Gardner se James (4 ½) ’n speelgoed-munt insluk, het die gemeenskap van die kleine Philadelphia naby Malmesbury haar omarm.

“Jy probeer jou kind teen die groot dinge beskerm, slange, ’n warm stoof. En dan sit hy rustig langs jou en speel en so iets gebeur,” vertel sy aan SARIE.com.

Sy het vroegaand Dinsdag op die rekenaar gewerk terwyl sy Robin (5 maande) borsvoed. James het daarnaas met sy skatkis gespeel. Chris, haar man, was nog op Suidooster se stel, waar hy hoof van beligting en tegnies is.

“Ek het gehoor James snak na asem en toe: ‘Mamma’. Hy het probeer verduidelik hy het ’n speelgoed-munt ingesluk. Die volgende oomblik het hy oor my en Robin opgegooi. Ek het dadelik ’n noodoproep op Philadelphia se WhatsApp-sekuriteitsgroepie uitgestuur. ‘Ek het ’n dokter nodig asb. asb. asb!’ James se lyf het onwillekeurige spasmas gemaak, seker soos dit die munt probeer uitwerp het. Sy gesig wanneer ’n spasma sy lyfie ruk, sy oë wat rol … en ek kan niks doen nie!”

FOTO Verskaf

FOTO Verskaf

Desiré sê ’n buurman was binne minute daar. En kort op sy hakke Kerry Green van verder af in die straat, ’n ongevalle-verpleegsuster. Sy het James begin uitvra: Waar het hy pyn, kan hy asemhaal? En gesê dis belangrik om hom regop te hou, dat hulle hom kalm moet hou. Kort voor lank was “omtrent die hele dorp” daar. Een het Robin gevat, nog een het gevra of sy die honde kan kosgee.

“Willem Jooste, ’n mediese dokter wat op die dorpie woon, het ook opgedaag. Hy het geluister na James se asemhaling, of dit reg is. En gesê dis belangrik dat hy hospitaal toe gaan. Al is die munt nou in sy slukderm, kan dit na sy lugweg toe beweeg. Die ambulans was reeds op pad. Ek het James kalm probeer hou, vir hom gesing en gebid, gesing en gebid …

“Omtrent die hele dorp het op die straathoeke gestaan en die ambulans na ons huis toe beduie. By die hospitaal het X-strale gewys die munt sit reeds in sy magie. Nou moet ek net dophou vir tekens soos erge maagpyn en hardlywigheid. En of die muntstuk uitkom. Kom ons laat dit daar, genoeg om te sê die ‘skatkis’ het nog niks opgelewer nie. As dit ná ’n week nog nie gebeur het nie, moet hy weer X-strale kry om te sien of dit nog in sy maag is.

“Sy lyfie was gister seer, seker van al die opgooi. Hy’t briefies geteken en geverf om dankie te sê vir al die dorp se engele wat gehelp het. Ek het hom gevra hoekom hy die muntstuk in sy mond gesit het. Ek het al soveel keer gemaan hy moenie. Hy sê hy hou van die metaal-smaak. Maar ek dink hy het sy les geleer.”

FOTO Verskaf

FOTO Verskaf

Wat doen jy as dit met jou kind gebeur?

Dr. Jooste sê jy moet eerstens probeer kalm bly.

– As jy nie kennis van noodhulp het nie, kry dadelik hulp as dit lyk of die kind verstik of kort van asem is. Kom so vinnig moontlik by ’n hospitaal uit.

– As jy wel kennis van noodhulp het, pas die Heimlich-metode toe. Hy benadruk alle ouers en onderwysers moet ’n basiese noodhulp-kursus doen.

– Selfs al lyk dit of die kind gemaklik asemhaal, moet jy hom steeds hospitaal toe vat.

– Bel ’n ambulans, moenie self bestuur terwyl jy ontsteld is nie.

– Die liggaam sal waarskynlik enigiets kleiner as 5 cm x 2 cm self uitwerp. Die kans dat ’n kind iets groter as dit sal sluk, is klein.

Voorkoming: Kinders van 4-5 jaar sit alles in hul mond. Magnete en klein horlosie-batterye is veral gevaarlik. Die goue reël: as iets deur ’n toiletrol kan gaan, moenie dat jy kind daarmee speel nie.

Lees nou

3 gunsteling-trends by New Yorkse Modeweek

Eloise Cupido is swanger!

5 redes waarom koffie goed is vir jou