FOTO: Gallo Images / Getty Images

FOTO: Gallo Images / Getty Images

Het jy gehoor?

Die 6 stories waaroor almal nou praat

As jy vandag tussen mense is, gaan julle sekerlik oor een van dié (ligter) stories gesels …

1. Swifties oral treur

Nadat People die nuus gebreek het dat Taylor Swift en Calvin Harris ná 15 maande opgebreek het, is die internet behoorlik ontsteld!

Taylor se rekord met verhoudings is nie goed nie, maar die “goeie” nuus is dat sy gewoonlik ná ’n verhouding nuwe liedjies bekend stel.

Toe sy vir Joe Jonas tot siens sê, het sy “Forever & Always” geskryf. Ná John Mayer is “Dear John” bekend gestel. En blykbaar was haar verhoudings met Jake Gyllenhaal en die Twilight-akteur Taylor Lautner die inspirasie vir “We Are Never Ever Getting Back Together” en “Back To December”, volgens haar Swiftipedia-blad (ja, iemand het vir Taylor haar eie Wikipedia-webtuiste gegee!).

 

2. Olifant maak vir Arnie bang

Hy was dalk op sy dag die wêreld se sterkste man, maar teen ’n Afrika-olifant het selfs Arnold Schwarzenegger geen kans nie.

Arnie was in ’n wildreservaat toe ’n olifant hul safarivoertuig bestorm. Hy het dié ervaring op sy Twitter-blad gedeel en gevra dat mense ophou om olifante vir hul ivoor dood te maak.

Arnold het verlede week in SA aangekom om die multisport-fees die Arnold Sport-fees, oftewel die Arnold Classic, by die Sandton-konferensiesentrum te open, berig EWN.

3. AB se stem

AB het vir eers die kolf by die Indiese Premierliga (IPL) neergelê en maak nou musiek saam met sy vrou, Danielle. Ons het geweet ons Protea-held se talent strek verder as die krieketveld (hy het al ’n CD uitgereik), maar hy het almal met dié musiekvideo’s verras.

Die eerste liedjie wat hulle op YouTube gelaai het, is Ronan Keating se “When You Say Nothing at All”. Dit is ook die heel eerste liedjie wat AB geleer het om op sy kitaar te speel.

Daarna het AB en Danielle Frances se liedjie “Don’t Worry About Me” gesing.

4. Jonathan Kaplan word pa

Op die rugbyveld is hy dalk die baas, maar met ’n nuwe baba in die huis kan jy maar weet dat Jonathan Kaplan nou net na sy nuwe seun se versoeke luister.

Dié 50-jarige rugbyskeidsregter het gister sy seun verwelkom. Hy is ’n enkelpa wat ’n surrogaat gebruik het om dié droom te bewaarheid.

5. Ratanga maak deure toe

Die Kaap se enigste pretpark kan binne vier jaar sy deure en tuimeltreine sluit. Die eiendomsontwikkelaars Rabie, wat Ratanga in 2005 oorgekoop het, het in ’n persverklaring gesê daar is nog geen vaste datum nie, maar dat dit moontlik binne die volgende 2 – 4 jaar kan gebeur, afhangende van die ekonomiese situasie en die vraag na kantoorspasie en behuising, berig IOL.

6. Voel soos ’n regte prinses

As jy bereid is om sowat $145 000 (sowat R2,2 miljoen) op te dok, kan jy die ikoniese blou blinkerrok van prinses Diana besit.

Diana het hierdie Catherine Walker-rok net by drie geleenthede gedra – tydens ’n besoek aan Oostenryk in 1986, na die Diamond-bal in 1990 en na die première van die flim Biggles in 1993.

Diana het self dié rok in 1997, 3 maande voor haar dood, in New York opgeveil.

Nóg ’n kledingstuk, ’n Emanuel B. Couture-jasrok wat sy in 1985 op haar en prins Charles se besoek aan Italië gedra het, word ook opgeveil, volgens US Weekly.