mood inkopies spaar lees nou
Het jy gehoor?

Die geheime van slim koop by jou supermark

Die landwye droogte het ’n direkte invloed op jou beursie wat kospryse betref. En na verwagting gaan voedselpryse net nóg styg. Boonop het die rentekoers gister opgegaan

Ons het ’n paar groot supermarkte se geheime vir groot besparings nagevors. Die grootste geheim by al vier – hou dop vir spesiale aanbiedinge. Daar is gereeld geleenthede om te spaar en die meeste van die supermarkte is baie goed daarmee om hul webtuiste met dié spaargeleenthede op datum te hou.

Gebruik ook al die lojaliteitsprogramme tot jou beskikking. Jy wil dalk nie altyd nóg ’n ekstra kaart in jou beursie ronddra nie, maar elke klein besparing tel op.

Checkers

Checkers-winkels landwyd het gereelde promosies op vars- en vleisprodukte. Hul webtuiste is gebruikersvriendelik en jy kan jou area intik om te sien wattter winkels wanneer watter spesiale aanbiedinge het.

Laai ook die Eezi Coupon-app af vir nóg besparing.

Woolworths

Met Woolworths se Daily Difference kan jy lekker spaar. Hou dié afdeling van hul webtuiste gereeld dop.

Kry ook ’n Woolworths- of MySchool-kaart en jy kry op sekere produkte ekstra afslag as jy jou kaart gebruik.

Food Lover’s Market

Food Lover’s Market se promosies werk op 3 vlakke – landwyd, per provinsie én is ook beperk tot sekere winkels. Hulle adverteer gereeld in gemeenskapskoerante, wat dit maklik maak om hul nuwe aanbiedinge te sien. Maar hul webtuiste is ook op datum met dié inligting.

Pick n Pay

Pick n Pay se Brand Match beloof dat 2 000 van hul produkte goedkoper is as in ander supermarkte. As jou mandjie duurder is, kry jy die verskil terug. En wat lekker is, is dat hulle dit self uitwerk.

Pick n Pay het ook ’n lojaliteitsprogram, Smart Shopper, waarop jy punte verdien elke keer dat jy inkopies doen. Jy kan dan dié punte inruil vir afslag op jou volgende kopie.

Pick n Pay se hipermarkte verkoop gereeld in groter maat – kyk mooi of dit wel goedkoper is as wat dit in klein maat kos.

Onthou …

Dis baie goed om jou spyskaart vooruit te beplan en nie baie winkel toe te gaan en moontlik met ekstra onnodige items uit te loop nie. Maar by navraag het die meeste supermarkte gesê dat hulle daagliks in die winkels afslag bied wat nie noodwendig lank vooruit geadverteer word nie.

As jy in groot maat koop, werk jou spyskaart daarom uit. Dit help nie jy moet baie daarvan weggooi nie.

Vra ’n ander huishouding of hulle met jou wil deel as jy in groot maat koop, veral as jy enkellopend is of julle ’n klein gesin is.

In dié finansiële tyd is dit maar nodig om jou tyd te vat by die supermark. Haal jou selfoon uit en werk op die rekenaar uit wat die goedkoopste is.

As jy nie gewoond is aan rondkyk vir die beste prys nie, neem ’n papiertjie met pryse saam met jou na die winkel om vergelyking makliker te maak.

Om ’n rand hier en twee rand daar te bespaar, klink dalk nie vir jou na groot besparing nie, maar op ’n kosmandjie van 20 produkte waarin elke produk net R1,50 goedkoper is, spaar jy R30.

Lees nou – 8 wenke om op jou kosmandjie te spaar