167151176
Het jy gehoor?

Die Kate-effek …

Kate Middleton

Toe die hertogin van Cambridge vroeër die jaar afgeneem is waar sy ’n baba-wiegie saam met haar ma koop, het die verkope daarvan in minder as ’n week met 57% gestyg.

Kate Middleton

Dié polkakol-rok van Topshop wat sy tydens ’n openbare uitstappie aangehad het, het binne ure van dié uitstappie uitverkoop.

Pitter Patter

Skoonheidshuise het ook begin om die geboorte van Kate en William se eersteling te vier. Butter London het byvoorbeeld ’n naellak-kleur ontwerp spesiaal vir die koms van dié koninklike. Die nuwe kleur se naam is “Pitter Patter”. Dit is, soos verwag, ’n diep koninklike pers. Ander kleure in hul koninklike reeks sluit in “No More Waity, Katie” wat ontwerp is vir Kate en William se verlowing en “Lillibet’s Jubilee” ter viering van koningin Elizabeth se 60 jaar op die troon.

Kate se hare

En nou is daar nóg iets wat almal van Kate begeer – haar hare. ’n Nuwe studie deur Kérastase in die Verenigde Koningryk het gevind dat Kate die meeste Britse vroue se haar-ikoon is. Dit is glo die volume en “bons” in haar hare wat haar dié topposisie gegee het.

Die tydskrif Hello! het gister berig dat Kate verlede maand ’n vegetariese Indiese kerrie in haar tuisdorp geëet het. Dié kerrie wat glo haar swangerskapdrange bevredig het, is die handewerk van Chan en Hash Shingadia. Hulle bestuur die Spar in Berkinshire. Dié paartjie is familievriende van die Middletons en is ook na Kate en William se troue genooi.

Ons wonder wat die effek op die Shingadias se besigheid gaan wees nadat die Britte hierdie nuus gehoor het …

Wanneer kom die baba?

Beroepswedders en Jan Publiek kan nie ophou raai wanneer die baba gaan kom nie. Dit is Britse koninklike tradisie om die swangerskap op 12 weke bekend te maak, maar omdat Kate aan die begin van haar swangerskap siek was, was hulle forseer om die swangerskap vroeër bekend te maak.

By ’n onlangse partyjie waar Kate se vriende was, het die nuus uitgelek dat die baba glo op 13 Julie gaan kom, volgens Daily Mail. ’n Bron wat by dieselfde partytjie was, het weer aan E Online gesê dis 14 Julie.

Indien die pienkvoet wel tussen 11-14 Julie haar of sy verskyning maak, val dit saam met die kroningsfees wat koningin Elizabeth se 60 jaar op die troon vier.

Kate het vroeër dié vraag omseil en gesê babas het hul eie kalender. Maar beroepswedders wil nie hiervoor wag nie. Die bekende aanlyn wedagentskap, Ladbrokes, het ’n veldtog waarin dubbelgangers van Kate, Pippa, hul ma, Camilla en die koningin verskyn om die weddenskappe bietjie meer interessant te maak.

Die dubbelgangers

Klik hier vir meer foto’s.