1762brz
Het jy gehoor?

Die Laan se Oubaas en sy twee kinders saam op die verhoog

Buddy, The Buddy Holly Story is binnekort op die planke in die Pretoriase Staatsteater. Dis van 10 Oktober tot 7 November 2010 te sien. En raai net wie’s die regisseur? Pierre van Pletzen, wat ons ken as Oubaas van die Laan. Sy seun, Peach van Pletzen, vertolk die rol van Jerry Allison en sy dogter, Zetske, speel Buddy se vrou, Maria Elena.

Die storie van dié talentvolle sanger wat op 22 tragies oorlede is, word deur ‘n Suid-Afrikaanse geselskap opgevoer. En al die treffers soos Peggy Sue, That’ll be the day, Oh Boy en Raining in my heart sal jou aan die dans hê.

Die Buddy Holly-storie (Charles Hardin “Buddy” Holly) begin waar hy vir Maria Elena (sy vrou) ontmoet. Vanuit sy tuisdorp, Lubbock in Texas, word hy alombekend as die Rock ‘n Roll-koning. Ons herleef sy laaste konsert ooit, die Winter Dance Party Tour, waar hy saam met Richie Valens en The Big Bopper (J.P. Richardson – Chantilly Lace) in die Surf Ballroom in Clear Lake, Iowa, op 2 Februarie 1959 opgetree het.

Op 3 Februarie daardie jaar is hy in ‘n vliegtuigongeluk oorlede. Don McLean het ”American Pie” hieroor geskryf: “I can’t remember if I cried, when I read about his widowed bride/But something touched me deep inside, the day the music died…”

Wie speel wie?

Andrew Webster – Buddy Holly

Craig Urbani - The Big Bopper/Hipockets Duncan

Dillon Naicker - Ritchie Valens

Peach van Pletzen - Jerry Allison

Jaco Muller – Joe B Mauldin

Zetske van Pletzen – Maria Elena

Wanneer en waar kry ek kaartjies?

Sondag 10 Oktober tot 7 November

Woensdae, Donderdae en Vrydae om 20h00
Saterdae 15h00 en 20h00
Sondae 15h00

Kaartjies by Computicket