FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Het jy gehoor?

Deel jou klavierstorie met Charl du Plessis

Die pianis, die klavier & die liefdesbrief

Hy toer vanjaar reg oor die land, op soek na ’n liefdesbrief wat dekades gelede glo in ’n klavierstoeltjie agtergelaat is. so vertel die meester-pianis Charl du Plessis. en jy kan deel wees van dié ‘soektog’ …

Dit het begin by ‘n liefdesverhaal wat hom glo sowat 80 jaar gelede in Suid-Afrika afgespeel het …

’n Johannesburgse konsertorganiseerder raak verlief op ’n Britse pianis terwyl hy hier op toer is. Op die vooraand van sy laaste konsert, voordat hy na Londen sou terugkeer, laat sy vir hom ’n liefdesbrief in die konsertklavier se stoeltjie.

“As jy hier bly, my Lief, sal ek joune wees. Vir ewig,” gee Charl du Plessis sy verbeelding vrye teuels oor die inhoud van daardie brief …

Sy grysblou oë vonkel terwyl ons in ’n koffiewinkel in Sandton gesels oor die storie agter sy nuwe toer, 10 Steinways, 10 Stede, 10 Solo-konserte.

“Maar hy het nooit haar woorde gelees nie,” sê Charl. “Verbeel jou, iewers in ons land, êrens in ’n verlate klavierstoeltjie, die plek waar niemand ooit kyk nie, lê dáái brief.”

Die storie het hom aangeraak, vertel dié bekende pianis wat ook gereeld vir Nataniël begelei. “Dis so romanties. Die musiek, die verlore liefde, die misterie. Dit het my laat dink aan al die wonderlike musiekherinneringe van Suid-Afrikaners waarvan ons nog nooit gehoor het nie. Toe besluit ek, ek gaan daai brief ‘soek’,” vorm sy hande die aanhalingstekens.

Eintlik gaan hy, ter nagedagtenis aan die mooi verhaal, mense se musiekstories soek.

Sy toer (en soektog) skop Februarie in Kaapstad af en eindig Oktober in Johannesburg. Op SARIE se sosiale netwerke en op SARIE.com nooi hy mense uit om vir hom hul herinne- ringe te stuur, hetsy van die Steinway- vleuel in hul stadsaal waar hy gaan optree of hul eie klavierstories. “SARIE is die ideale platform omdat haar lesers daarvan hou om deel te wees van stories,” sê Charl.

“Hoeveel mense is daar nie wat hul eie verhaal het om te vertel nie? Iemand wie se oupa altyd vir hom/haar liedjies gespeel of wie se seun uitmuntend op die klawers presteer het. In die meeste van die stede waar ek gaan optree, is die stadsaal se klavier stokoud. Daar is dalk mense wat al self agter daardie klavier ingeskuif het of kan onthou watter groot kunstenaars daar gespeel het.”

Deel jou klavierstorie met Charl du Plessis só: los kommentaar onderaan dié artikel in dié boksie wat só lyk

Screen Shot 2014-02-06 at 9.58.10 AM

  • charlotte groenewald

    n R MÜller Klavierstorie.

    My 91 jarige Moeder is in 1923 op n plaas gebore in die Breëriviervallei naby Worcerster. Dit was gedurende parstyd in 1932 toe hulle buurman van die naburige plaas met sy trekker en wa, n vrag druiwe na die kelder toe geneem het. Sy vrou en hondjie het altyd tot by die hek op die werf gestap om die hek oop en toe te maak. Wanneer hy teruggekom het, het sy dan weer die hek kom oopmaak sodat hy kon inry. Toe hy van die kelder af terugkom, het net die klein hondjie alleen by die hek gestaan. Die boer het gaan soek waar sy vrou is en haar in die kombuis aan die tafel se poot, vasgemaak, gevind. Sy was vermoor. Die moordenaar was n jong werker op n naburige plaas en hy is daar gevang. Hy is in die openbaar tereggestel. Mans en vroue, ook my Oupa en Ouma, het op die spesifieke dag na Galgkoppie by Worcester, waar Langerug vandag is, gegaan om te aanskou hoe die skuldige opgehang word. Die boer en sy oorlede vrou was kinderloos en na die begrafnis het my Oupa die klavier by sy buurman gekoop. Dit is n R MÜller klavier met n kerskandelaar aan weerskante en die naam van die klavier is ook in goue letters op die rooi lappie wat op die klawers lê. My Moeder en haar suster het klavierlesse begin neem en na die plaasskool het sy verder op Worcester skoolgegaan waar sy in die Seminarie koshuis ingewoon het gedurende die week. My Moeder het klavierlesse geneem totdat sy die skool verlaat het in standerd nege om haar Moeder wat aan kanker gely het te versorg tot haar sterfdag in 1943. In 1935 het sy n sertifikaat van die Universiteit van Suid Afrika ontvang: “Passed in Pianoforte Elementary Division” en in 1936 het sy n sertifikaat ontvang van die Trinity College of Music London; “Passed in Theory of Music-Preparatory Division – Honours in the following subjects – Elementary Notation, Time, Scales and Terms”. Toe my Moeder se suster getroud is en op Oudtshoorn gaan woon het was die klavier in haar besit tot en met haar afsterwe n paar jaar gelede. Daarna is die klavier verkoop aan my neef se vriend, se dogter. Ek het die storie van die klavier toe op skrif gestel en ek hoop hy het dit aan die nuwe eienaar oorhandig. My Moeder speel nog graag klavier wanneer sy die geleentheid kry en steeds net so spontaan soos jare gelede tot groot genot van die aanhoorders en ook haarself. Ek hoop dat hierdie klavierstorie, wat ek neergeskryf het soos wat my Moeder dit aan my vertel het, ook gebêre word in die R MÜller klavier se stoeltjie.