Vilje Maritz en Edwin van der Walt tydens die skiet van 'Die Pro'

Vilje Maritz en Edwin van der Walt tydens die skiet van 'Die Pro'

Het jy gehoor?

Die Pro-akteurs gesels oor die amperse haai-aanval

Gister is die professionele branderplankryer Mick Fanning tydens die Jeffreysbaai Ope so byna deur ’n haai aangeval. Die video daarvan sal jou nekhare laat rys!

Ons het met van die akteurs wat in die eerste Afrikaanse surf-fliek, Die Pro, speel daaroor gesels. Ons wou hoor hoe hulle gevoel het toe hulle die voorval sien gebeur in dieselfde water waarin hulle ’n paar maande tevore aan Die Pro geskiet het. 

Vilje Maritz is nie net voor die kameras lief vir branderplank ry nie.

“Die rede hoekom Die Pro my so na aan die hart lê, is omdat ek al self ’n pêl verloor het as gevolg van ’n haai-aanval. David Lilienfeld is so ’n paar jaar gelede aan die Kaapse kus aangeval – hy was SA se nr. 1-lyfplankryer gewees en sy broer en sy vriend was saam hom in die water …

“Toe ek van gister se voorval gehoor het, was ek besig op Facebook en het dadelik na die video gaan kyk. Dit was vir my skrikwekkend en ek was dankbaar dat Mick sonder ’n skraap aan sy lyf oorleef het.

“Daar is altyd die gevaar van ’n haai-aanval wanneer jy surf en van kleins af is dit iets wat elke dag deur my kop gaan, maar in alles wat jy doen in die lewe is daar ’n gevaar. As surfer is ek bereid om daai kans te vat, want dis vir my ’n passie en nie net ’n stokperdjie nie. ’n Mens kry volgens my nie ’n beter gevoel as dit nie.”

Edwin van der Walt, wat een van die hoofrolle in Die Pro vertolk, kon dit amper nie glo nie.

“Eerstens was dit ’n baie vreemde gevoel – dit het my eers ’n paar sekondes geneem om te besef dit kon met enigeen van ons spanlede gebeur het. Dis toe dat ek besef hoe dankbaar ons kan wees dat niemand beseer is nie.

“Terwyl ek die video gekyk het, het ek my asem so bietjie begin ophou toe ek sien wat werklik aangaan, en eers weer besef ek moet asem haal toe die video stop. Ek het net heeltyd gedink aan wat ek sou doen … ek dink die ‘veg’-instink sal inskop – of so hoop ek.

“Ek is bly Mick Fanning is oukei en dat hy sy excellent skills kan gaan wys in die volgende ronde.”

Reine Swart speel ook in Die Pro.

“Gelukkig was dit net ’n noue ontkoming met die haai, alhoewel die vin skrikwekkend groot was. Dit is ’n ervaring wat die surfer nooit sal vergeet nie.

“Ek is baie verlig dat hy oorleef het. As dit met my gebeur het, sou ek tien teen een ’n klein hartaanvalletjie gekry het. Hy het baie goed gedoen deur so vinnig daar weg te kom.”

Bennie Fourie speel die grapjas in Die Pro.

“My eerste reaksie toe Andre Velts [die regisseur van Die Pro] gister die video op my Facebook-profiel deel, was een van skok. Ons het minder as vier maande gelede elke dag op daardie selfde plek gesurf.

“Maar ek’t ook gedink: Hoe gelukkig is daardie ou om nou te kan surf! En ek dink dis hoe ek oor die storie voel. Die haaie gaan nie ewe skielik voete en normale longe groei en uit die see uitklim nie. Selfs toe ons Die Pro geskiet het, het jy gevoel hulle is altyd daar, êrens besig om onder jou te sirkel, maar jy vergeet mettertyd daarvan want jy surf te lekker.

“Vilje Maritz en Edwin van der Walt het dit meer as een keer snaaks gevind om ongemerk aan my leash te pluk. Dan skrik jy jouself byna dood.

“Ons het meer as een keer haaie gesien. Ek onthou Arno Greeff en Vilje Maritz was in die water toe hulle een gesien het wat ’n ent dieper was … dan paddle jy maar uit asof jy ‘n 200 perdekrag-enjin op elke arm het. Maar terug moet mens terug. Die fliek moet klaar.”

Hier is die lokprent van Die Pro

Lees ook